YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 11

11
Dawid as koning
(2 Sam 5:1-3,6-10)
1 Die hele Israel het by Dawid in Hebron byeengekom en gesê: “Kyk, ons is u bloedfamilie. 2Reeds vroeër, selfs toe Saul koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die Here u God het vir u gesê,
‘Jy sal 'n herder wees
vir my volk Israel,
ja, jy sal 'n leier wees
oor my volk Israel.’ ”
3Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het Dawid met hulle in Hebron 'n verbond gesluit voor die Here; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel, ooreenkomstig die woord van die Here, by monde van Samuel.
Inname van Jerusalem
(2 Sam 5:6-10)
4 Dawid en die hele Israel het toe na Jerusalem gegaan, dit is Jebus, waar die Jebusiete die inwoners van die gebied was. 5Die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier inkom nie!” En tog het Dawid die Sionsvesting, dit is die Stad van Dawid, ingeneem. 6 Dawid het gesê: “Wie ook al eerste 'n Jebusiet neervel, word hoof en •aanvoerder!” Joab, seun van Seruja, het eerste opgegaan, en hy het hoof geword.
7 Dawid het in die vesting gaan woon; daarom het hulle dit die Stad van Dawid genoem. 8Dawid het die stad rondom opgebou, van die terrasse af en reg rondom, terwyl Joab die res van die stad herstel het. 9 Dawid het al hoe sterker geword. Die Here, Heerser oor alle magte, was met hom.
Dawid se helde
(2 Sam 23:8-39)
10Hier volg die hoofde van Dawid se helde wat hom tydens sy koningskap kragtig bygestaan het, deurdat hulle, saam met die hele Israel, hom koning gemaak het oor Israel ooreenkomstig die woord van die Here. 11 Dit is dan die getal helde wat Dawid gehad het:
Jasobam, seun van Gakmoni, was hoof van die dertig. Hy het in een veldtog sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai.
12Ná hom was daar Eleasar, seun van Dodo, uit Agoag. Hy was een van die drie helde. 13 Hy was by Dawid in Pas-Dammim toe die Filistyne daar vir die geveg byeen was. Daar was 'n stuk land vol gars, en toe die manskappe voor die Filistyne uit vlug, 14het hulle stelling ingeneem in die middel van die land en dit teruggevat. Hulle het die Filistyne verslaan, en die Here het 'n groot oorwinning bewerk.
15'n Drietal van die dertig hoofde het afgegaan na Dawid by die rots, by die grot van Adullam. Die kamp van die Filistyne was opgeslaan in die vallei van Refaïm. 16 Dawid was op daardie stadium in die bergvesting, en daar was 'n wagpos van die Filistyne in Betlehem. 17Dawid was vol heimwee, en het gesê: “As iemand tog net vir my water kon laat drink uit die opgaarput by Betlehem wat by die dorpspoort is!” 18Die drie het toe deur die kamp van die Filistyne gebreek en water geskep uit die opgaarput by die dorpspoort van Betlehem. Hulle het dit gedra en vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie, en het dit vir die Here uitgegiet 19en gesê: “Mag my God my daarvan weerhou dat ek dit ooit sou doen! Sou ek die bloed van hierdie manne drink wat hulle lewens gewaag het? Ja, deur hulle lewens te waag, het hulle dit gebring.” Hy wou dit nie drink nie. Dit is wat dié drie helde gedoen het.
20 Abisai, Joab se broer, hy was die hoof van die drietal. Hy het sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai. Hy het vir hom naam gemaak onder die drie. 21By die drietal het hy dubbele eer ontvang, en hy was vir hulle 'n aanvoerder; maar hy was nie die gelyke van die drie nie.
22 Benaja, seun van Jojada, was 'n onverskrokke man uit Kabseël wat groot dade gedoen het. Hy is die een wat die twee manne van Moab, manne met leeuemoed, verslaan het. Dit is hy wat op 'n dag toe dit gesneeu het, binne-in 'n opgaarput afgegaan en 'n leeu neergevel het. 23 Dit is ook hy wat 'n Egiptenaar, 'n man wat vyf el lank was, verslaan het. Die Egiptenaar het 'n vegspies soos die dwarsbalk van 'n weefraam in sy hand gehad. Benaja het met 'n stok na hom afgegaan. Hy het die vegspies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie vegspies doodgemaak. 24Dit was sulke dade wat Benaja, seun van Jojada, gedoen het, en hy het naam gemaak onder die drie helde. 25Hy was ongetwyfeld meer geëerd as die dertig, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dawid het hom aangestel oor sy lyfwag.
26 Die dapper krygers was:
Asael, broer van Joab;
Elganan, seun van Dodo, uit Betlehem;
27Sammot uit Haror;
Geles uit Pelon;
28Ira, seun van Ikkes, uit Tekoa;
Abiëser uit Anatot;
29Sibbegai uit Gusa;
Ilai uit Agoag;
30Marai uit Netofa;
Geled, seun van Baäna, uit Netofa;
31Ittai, seun van Ribai, uit Gibea van die Benjaminiete;
Benaja uit Piraton;
32Gurai uit Nagale-Gaäs;
Abiël uit Bet-Araba;
33Asmawet uit Bagarum;
Eljagba uit Saälbon;
34die seuns van Hasem uit Gison;
Jonatan, seun van Sage, uit Harar;
35Agiam, seun van Sagar, uit Harar;
Elifal, seun van Ur;
36Gefer uit Megera;
Agija uit Pelon;
37Gesro uit Karmel;
Naärai, seun van Esbai;
38Joël die broer van Natan;
Mibgar, seun van Hagri;
39Selek die Ammoniet;
Nagrai uit Beërot, die wapendraer van Joab, seun van Seruja;
40Ira uit Jeter;
Gareb uit Jeter;
41Urija die Hetiet;
Sabad, seun van Aglai;
42Adina, seun van Sisa, 'n Rubeniet, hoof van die Rubeniete, met dertig by hom;
43Ganan, seun van Maäga;
Josafat uit Meten;
44Ussia uit Astarot;
Sama en Jeïel, seuns van Gotam, uit Aroër;
45Jediael, seun van Simri, en sy broer Joga uit Tis;
46Eliël uit Magawi;
Jeribai en Josauja, seuns van Elnaäm;
Jitma die Moabiet;
47Eliël, Obed en Jaäsiël uit Soba.

Currently Selected:

1 Kronieke 11: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in