YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 22

22
Die koning van Moab laat vir Bileam roep om die Israeliete te vervloek
1Die Israeliete het verder gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan in die Moab-vlakte anderkant die Jordaan-rivier by die stad Jerigo. 2Balak seun van Sippor het gehoor wat die Israeliete alles gedoen het met die Amoriete. 3Die Moabiete het baie bang geword vir die Israeliete, want daar was baie Israeliete. Die Moabiete was bang vir die Israeliete 4en hulle het vir die leiers van die Midianiete gesê: “Hierdie klomp mense sal alles rondom ons op-eet soos 'n bees die groen gras in die veld opvreet.”
Balak seun van Sippor was in daardie tyd koning van die Moabiete. 5Hy het boodskappers gestuur en vir Bileam seun van Beor laat roep in die stad Petor, in die land Ammau naby die Eufraat-rivier. Hy het gesê die boodskappers moet vir Bileam sê: “Hier het 'n volk uit die land Egipte gekom. Hulle is baie, hulle is oral in die hele land en hulle woon nou hier naby ons. 6Jy moet asseblief kom en jy moet hulle vervloek, want hulle is te sterk vir ons. Miskien sal ons hulle dan kan oorwin en hulle uit die land jaag. Ek weet dat wanneer jy iemand seën, dan gaan dit goed met hom, en wanneer jy iemand vervloek, dan gaan dit sleg met hom.”
7Die leiers van die Moabiete en die Midianiete het gegaan en hulle het die beloning saamgeneem wat waarsêers moet kry. Toe hulle by Bileam kom, het hulle vir hom gesê wat Balak gesê het. 8Bileam het vir hulle gesê: “Julle moet vannag hier slaap, dan sal ek môre vir julle sê wat die Here vir my sê.”
Die amptenare van Moab het toe daar by Bileam gebly.
Bileam gaan nie saam nie
9God het na Bileam toe gekom en vir hom gevra: “Wie is hierdie mans by jou?”
10Bileam het vir God gesê: “Balak seun van Sippor, koning van Moab, het vir my 'n boodskap gestuur en gesê: 11‘Hier het 'n volk uit Egipte gekom, hulle is baie, hulle is oral in die hele land. Nou moet jy kom en jy moet hulle vir my vervloek. Miskien sal ons dan teen hulle oorlog kan maak en hulle uit die land jaag.’ ”
12God het vir Bileam gesê: “Jy moenie saam met die boodskappers gaan nie. Jy moenie die volk vervloek nie, want Ek het hulle geseën.”
13Toe Bileam die volgende oggend opstaan, het hy vir die amptenare van Balak gesê: “Julle moet teruggaan na julle land, want die Here wil nie hê dat ek saam met julle moet gaan nie.”
14Die amptenare van Moab het toe gereedgemaak en na Balak toe gegaan en vir hom gesê: “Bileam het gesê hy wil nie saam met ons kom nie.”
Balak laat weer vir Bileam roep
15Balak stuur toe weer amptenare na Bileam toe. Hulle was meer en belangriker amptenare as die eerste amptenare. 16Toe die amptenare by Bileam kom, het hulle vir hom gesê: “Balak seun van Sippor sê: Kom na my toe, jy moenie dat iemand jou keer om te kom nie, 17want ek sal jou baie ryk maak en ek sal alles doen wat jy sê. Kom vervloek nou asseblief hierdie volk vir my.”
18Bileam het geantwoord en vir die amptenare van Balak gesê: “Ek moet doen wat die Here vir my sê, ook as Balak vir my sy huis vol silwer en goud gee. Ek kan nie minder doen nie en ek kan ook nie meer doen nie. 19Maar julle moet nou ook vannag hier bly, sodat ek kan hoor wat die Here nog vir my wil sê.”
Bileam gaan saam
20God het in die nag na Bileam toe gekom en vir hom gesê: “As die mans gekom het om jou te roep, dan moet jy gereedmaak en saam met hulle gaan. Maar jy moet net doen wat Ek vir jou sê.”
21Toe Bileam die volgende oggend opstaan, het hy sy donkie-merrie opgesaal en saam met die amptenare van Balak gegaan.
Die Engel van die Here
22Maar God het baie kwaad geword toe Bileam gaan. Die Engel van die Here het in die pad gaan staan om vir Bileam te stop. Bileam het op sy donkie gery, en sy twee slawe was by hom. 23Die donkie het gesien dat die Engel van die Here in die pad staan, en dat die Engel sy swaard in sy hand het. Die donkie draai toe uit die pad en gaan in die veld in, maar Bileam het die donkie geslaan om haar te laat terugdraai na die pad. 24Toe gaan staan die Engel van die Here in 'n nou paadjie tussen die wingerde, daar was 'n muur langs elke kant van die paadjie. 25Toe die donkie die Engel van die Here sien, het sy baie naby langs die muur probeer verbyloop en sy het Bileam se been teen die muur vasgedruk. Bileam het die donkie weer geslaan. 26Die Engel van die Here gaan toe verder en gaan staan in 'n nou plek waar 'n mens nie kan wegdraai nie, nie links of regs nie. 27Toe die donkie weer die Engel van die Here sien, het sy gaan lê onder Bileam. Bileam het baie kwaad geword en hy het haar geslaan met 'n stok. 28Die Here maak toe die bek van die donkie oop sodat die donkie kan praat, en sy het vir Bileam gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Hoekom het jy my nou al drie maal geslaan?”
29Bileam het vir die donkie gesê: “Jy maak my baie kwaad. As ek nou 'n swaard in my hand gehad het, dan het ek jou doodgemaak.”
30Toe sê die donkie: “Ek is jou donkie, jy het altyd tot vandag toe op my gery. Het ek voorheen dit met jou gedoen?”
Bileam het gesê: “Nee, jy het nie.”
31En toe maak die Here Bileam se oë oop, en hy sien die Engel van die Here staan in die pad, die Engel het sy swaard in sy hand vasgehou. Bileam het gebuig en hy het gaan lê met sy gesig teen die grond. 32Die Engel van die Here het vir hom gesê: “Hoekom het jy die donkie drie maal geslaan? Ek het self gekom om jou te stop, want jy sal nie by My kan verbykom nie. 33Maar die donkie het My gesien en sy het drie maal weggedraai. As sy dit nie gedoen het nie, dan sou Ek jóú doodgemaak het, maar Ek sou háár laat aanhou lewe het.”
34Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek het verkeerd gedoen, ek het nie geweet dat U voor my in die pad staan nie. Maar as U nie wil hê dat ek verder moet gaan nie, dan sal ek teruggaan.”
35Maar die Engel van die Here het vir Bileam gesê: “Nee, gaan saam met die mans, maar jy moet net sê wat Ek vir jou sê.”
Bileam kom by Balak
Bileam het toe saam met die amptenare van Balak gegaan.
36Toe Balak hoor dat Bileam gekom het, het hy hom gaan ontmoet by die stad Ir-Moab, naby die Arnon-rivier, op die verste grens van die land. 37Balak sê toe vir Bileam: “Ek het jou twee maal laat roep. Hoekom het jy nie die eerste maal gekom nie? Het jy gedink ek kan jou nie betaal en ryk maak nie?”
38Bileam het vir Balak gesê: “Hier is ek, ek het na jou toe gekom. Maar onthou, ek kan niks sê wat ekself wil sê nie. Ek kan net sê wat God vir my sê.”
39Bileam gaan toe saam met Balak, en hulle het gekom by die stad Kirjat-Gusot. 40Balak het beeste en bokke en skape geslag en hy het dit vir Bileam en die amptenare by hom gestuur.
Bileam praat die eerste maal
41Die volgende oggend het Balak vir Bileam na die stad Bamot-Baäl geneem. Bileam kon van daar die kant van die Israeliete se tente sien.

Currently Selected:

Numeri 22: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in