YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 23

23
1Bileam sê toe vir Balak: “Jy moet hier sewe altare bou en jy moet sewe bulle en sewe skaap-ramme gereedmaak om te offer.”
2Balak het gedoen wat Bileam gesê het, en hulle twee het op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram ge-offer. 3Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly hier en staan by jou brand-offer, dan sal ek alleen weggaan. Miskien sal die Here na my toe kom en vir my wys wat ek vir jou moet sê.”
Bileam het toe na 'n plek op die berg gegaan waar daar nie bome is nie. 4Toe God by Bileam kom, het Bileam vir God gesê: “Ek het sewe altare laat bou en ek het op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram ge-offer.”
5God sê toe vir Bileam wat hy moet sê, en Hy sê Bileam moet teruggaan na Balak toe en hy moet dit vir Balak sê. 6Bileam het teruggekom by Balak. En daar staan Balak toe nog by sy brand-offer, hy en die amptenare van Moab. 7En toe begin Bileam praat. Hy het gesê:
“Balak het my laat kom
van die land Aram,
van die berge in die ooste.
Hy het gesê:
‘Kom vervloek die nageslag
van Jakob vir my,
kom sê dat dit sleg moet gaan
met Israel.’
8Maar as die Here nie die volk
vervloek nie,
dan kan ek ook nie vir hulle
vervloek nie.
Die Here het nie gesê dat dit
sleg moet gaan met hulle nie.
Kan ék dan sê dat dit sleg
moet gaan met hulle?
Nee.
9Want ek is hier bo-op die rotse
en ek sien die volk
van hier bo af,
ek kyk van die heuwels af
na hulle.
Hier is 'n volk wat alleen woon,
hulle woon nie saam
met ander volke nie.
10Niemand kan stof tel nie,
hulle kan ook nie die nageslag
van Jakob tel nie,
niemand kan sê hoeveel
is een kwart
van die Israeliete nie.
Ek bid dat ek eerlik sal bly
totdat ek sterf,
en dat my einde
soos hierdie volk se einde
sal wees.”
11Balak het vir Bileam gesê: “Wat het jy nou aan my gedoen? Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, maar jy het hulle nou geseën!”
12Bileam het geantwoord: “Ek mag net sê wat die Here vir my gesê het.”
Bileam praat die tweede maal
13Balak sê toe vir Bileam: “Kom asseblief saam met my na 'n ander plek. Jy sal van daar net party van hulle tente sien, jy sal hulle nie almal sien nie. Jy moet hulle vir my vervloek van daardie plek af.”
14Balak het toe vir Bileam na 'n plek bo-op Pisga-berg geneem, hulle kon van daar ver sien. Hy bou toe daar sewe altare en hy offer op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram. 15Bileam het vir Balak gesê: “Bly staan hier by jou brand-offer, ek sal met die Here gaan praat op 'n ander plek.”
16Die Here het na Bileam toe gekom en vir hom gesê wat hy moet sê. Die Here het gesê Bileam moet teruggaan na Balak toe en hy moet dit vir Balak sê. 17Toe Bileam terugkom by Balak, het Balak nog by sy brand-offer gestaan, hy en die amptenare van Moab. Balak het vir Bileam gevra: “Wat het die Here gesê?”
18Bileam begin toe praat. Hy het gesê:
“Balak, staan op, luister.
Seun van Sippor, jy moet hoor
wat ek sê.
19God is nie 'n mens nie,
Hy lieg nie,
Hy is nie soos 'n mens nie,
Hy verander nie wat Hy
besluit het nie.
Wanneer Hy iets belowe het,
dan doen Hy dit.
Wanneer hy gepraat het,
dan laat Hy dit gebeur.
20Luister, Hy het gesê ek moet
die volk seën,
en wanneer Hy iemand
geseën het,
dan kan ek dit nie
verander nie.
21Hy het nie besluit
dat dit sleg sal gaan
met die Israeliete nie,
en Hy het ook nie besluit
dat hulle sal swaarkry nie.
Hulle God die Here is by hulle,
hulle juig oor Hom, hulle Koning.
22God, wat hulle uit Egipte
gebring het,
is vir hulle soos die horings
van 'n oer-os.
23Ja, niemand kan die Israeliete
toor nie,
niemand kan sê wat met hulle
moet gebeur nie.
Mense sal nou
van die Israeliete sê:
‘Kyk wat het God gedoen!’
24Hier is 'n volk wat opstaan
soos 'n leeu,
wat gereedstaan soos 'n leeu,
wat nie gaan lê voordat hy iets
gevang en geëet het nie,
hy gaan lê nie voordat hy
die bloed gedrink het
van die diere wat hy
gevang het nie.”
25Balak het vir Bileam gesê: “As jy hulle nie kan vervloek nie, dan moet jy hulle ook nie seën nie.”
26Bileam het geantwoord en vir Balak gesê: “Ek het vir jou gesê dat ek alles sal doen wat die Here vir my sê.”
Bileam praat die derde maal
27Balak het toe vir Bileam gesê: “Kom asseblief, ek neem jou na 'n ander plek. Miskien sal God tevrede wees as jy hulle vir my vervloek” van daardie plek af.
28Balak neem toe vir Bileam tot bo-op Peor-berg. Van daardie berg kan 'n mens die droëveld sien. 29Bileam het vir hom gesê: “Bou vir my hier sewe altare en maak sewe bulle en sewe skaap-ramme gereed om te offer.” 30Balak het gedoen wat Bileam vir hom gesê het, en hy het op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram ge-offer.

Currently Selected:

Numeri 23: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in