YouVersion Logo
Search Icon

2 Samuel 22

22
'n Lied van Dawid
(Ook Ps 18)
1Dawid het hierdie lied vir die Here gesing in die tyd toe die Here hom gered het van sy vyande en van Saul. 2Hy het gesing:
“Here, U is my Rots,
my veilige plek in die berge,
U maak my vry.
3God wat my Rots is,
ek voel veilig by U,
U is vir my soos 'n skild,
U is sterk en U red my,
U is vir my 'n veilige plek,
ek kan na U toe vlug,
U is my Redder,
U red my van mense
wat my aanval,
4Here, ek wil U prys,
want U het my gered
van my vyande.
5Die branders van die dood
wou my vashou,
waterstrome het oor my gespoel
en wou my doodmaak.
6Toue van die doderyk
het my vasgebind,
vangstrikke van die dood
het my gevang en vasgehou.
7“Wanneer dit sleg gaan,
dan skree ek: Here!
Ek roep na my God,
Hy hoor my stem in sy paleis,
Hy hoor wanneer ek roep
en vra dat Hy my moet help.
8Die aarde het geskud
en gebewe,
die fondamente van die hemel
het gebewe en geskud,
want die Here was kwaad.
9Rook het uit sy neus gekom,
vuur het uit sy mond gebrand,
kole vuur het uit Hom gekom.
10Hy het die hemel oopgeskuif
en Hy het afgekom,
daar was donker wolke
onder sy voete,
11Hy het op 'n gerub geklim
en Hy het gevlieg,
Hy het verskyn op die vlerke
van die wind.
12Dit was donker rondom Hom,
donker water en dik wolke
het Hom toegemaak.
13Dit het geblink voor Hom,
kole vuur het geskyn.
14Die Here het die donderweer
laat raas in die lug,
die Hoogste God
het hard gepraat.
15Die weerligstrale was sy pyle,
Hy het sy vyande
na alle kante toe gejaag
en Hy het hulle laat vlug.
16“Wanneer die Here
met sy vyande raas,
wanneer die asem uit sy neus
'n stormwind word,
dan word die see leeg,
en die fondamente
van die wêreld lê oop.
17“Die Here steek sy hand
uit die hemel
en Hy gryp my,
Hy tel my op uit die baie water.
18Hy red my van my
sterk vyande,
van die mense wat my haat,
want hulle is te sterk vir my.
19Hulle val my aan
wanneer ek swaarkry,
maar die Here hou my regop.
20“Hy bring my na 'n plek
waar ek vry is,
Hy red my,
want Hy is lief vir my.
21Ek is onskuldig,
en die Here gee vir my
wat ek moet kry,
ek het niks verkeerd gedoen nie,
en die Here beloon my.
22Ja, ek het gedoen
wat die Here wil hê.
Wanneer my God my oordeel,
dan is ek nie skuldig nie.
23Ek het onthou wat Hy
gesê het ek moet doen,
ek het gedoen wat Hy
beveel het.
24Ek het alles gedoen wat Hy
gesê het,
ek het aangehou om reg te doen.
25Ek is onskuldig.
Die Here het gesien dat ek
niks verkeerd doen nie,
en Hy het my beloon.
26U doen wat U belowe het
vir die mense wat doen
wat húlle belowe.
U is altyd goed vir die mense
wat net goed doen.
27Wanneer mense rein is
en by U mag wees,
dan is U by hulle.
Wanneer mense vals is,
dan is U te slim vir hulle.
28U red mense wat hulleself
nie kan beskerm nie,
en U verneder mense wat dink
hulle is belangrik.
29Ja, Here, U gee vir my lig,
U maak lig wanneer dit donker
is om my.
30Ja, wanneer U by my is,
dan kan ek 'n klomp
mense aanval,
wanneer U, my God, by my is,
dan kan ek oor
'n hoë muur spring.
31“Wat God doen, is alles reg,
wat die Here sê, is altyd waar.
Hy is soos 'n skild vir almal
wat na Hom toe vlug.
32Die Here is die enigste God,
net ons God is 'n Rots.
33Hy is die God wat sterk is,
ek is veilig by Hom,
Hy maak my lewe veilig.
34Hy laat my so vas staan
soos 'n ribbok,
Hy laat my veilig staan
op hoë plekke.
35Hy leer vir my om oorlog
te maak,
Hy maak my arms sterk
sodat ek die snaar
van 'n brons-boog
styf kan trek.
36Die skild wat U vir my gee,
red my lewe,
U help my,
en dit gaan goed met my.
37U laat my vinnig hardloop,
my voete gly nie.
38Ek volg en jaag my vyande,
ek kom tot by hulle,
ek draai nie om
voordat hulle almal
dood is nie.
39Ek maak hulle dood,
ek slaan hulle,
hulle staan nie weer op nie,
hulle lê voor my voete.
40U maak my sterk om oorlog
te maak,
U laat my vyande
op hulle knieë staan
voor my.
41U laat hulle vlug, weg van my,
en ek kan die mense
wat my haat,
vir altyd stilmaak.
42Hulle skree en vra dat iemand
hulle moet help,
maar niemand red hulle nie,
hulle roep na die Here,
maar Hy antwoord hulle nie.
43Ek slaan hulle fyn soos stof,
ek trap op hulle soos ek trap
op die modder in die paaie,
ek trap hulle plat.
44“U red my van my eie mense
wat opstandig is teen my.
U maak my die hoof van volke
en U beskerm my.
Mense wat ek nie geken het nie,
doen nou wat ek sê.
45“Mense uit ander lande
kruip voor my.
Wanneer hulle hoor van my,
dan luister hulle dadelik.
46Hulle skrik en hulle kom
uit hulle stede, die stede
wat sterk mure het.
47“Die Here lewe,
ek wil my Rots prys.
Ek sê die God wat my Rots is
en wat my red,
is belangriker as alles.
48Hy is die God wat my help
om mense te straf
oor die dinge wat hulle
aan my gedoen het,
Hy laat my regeer oor volke.
49Hy red my van my vyande,
Hy laat my staan hoog bo
die mense wat teen my is,
Hy red my wanneer wrede
mense my wil seermaak.
50“Daarom, Here, ek sal U prys
sodat die volke dit kan hoor,
ek sal sing oor u Naam.
51“Die Here laat die koning
wat aan Hom behoort,
altyd wen teen sy vyande,
Hy doen wat Hy vir sy
gesalfde belowe het,
vir Dawid en sy nageslag,
vir altyd.”

Currently Selected:

2 Samuel 22: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy