YouVersion Logo
Search Icon

2 Samuel 21

21
Die mense van Gibeon en die nageslag van Saul
1In die tyd toe Dawid koning was, was daar een maal drie jaar lank hongersnood in die land. Dawid het vir die Here gevra hoekom dit so is, en die Here het gesê dit is omdat Saul mense laat vermoor het toe hy die mense van die stad Gibeon almal wou doodmaak. 2Die mense van Gibeon was nie Israeliete nie, hulle was Amoriete. Die Israeliete het vir hulle belowe dat hulle kan aanhou lewe. Maar Saul het probeer om hulle almal dood te maak. Hy het gedink hy doen goed vir Israel en Juda. Koning Dawid het die mense van Gibeon geroep 3en hy het vir hulle gevra: “Wat kan ek vir julle doen? Hoe kan ek julle help sodat julle weer sal wil hê dat dit goed moet gaan met die volk van die Here?”
4Die mense van Gibeon het vir die koning gesê: “Ons wil nie silwer of goud hê van Saul en sy familie nie. En ons mag nie iemand van die volk Israel doodmaak nie.”
Die koning het vir hulle gevra: “Sê vir my, wat moet ek vir julle doen?”
5Hulle het vir die koning gesê: “Daar was 'n man wat ons mense doodgemaak het en wat ons almal wou doodmaak sodat ons nie meer 'n plek sal hê in die hele Israel nie. 6Ons vra sewe manne van sy nageslag. Ons wil hulle ophang by die tempel in die stad Gibea-van-Saul, die stad van die man vir wie die Here gekies het.”
Die koning het gesê: “Goed, ek sal die sewe manne gee.”
7Die koning het nie vir Mefiboset seun van Jonatan gegee nie, want Dawid en Jonatan het voorheen 'n ooreenkoms gemaak, en die Here was die getuie. 8Maar Dawid het die twee seuns van Saul en Rispa dogter van Aja gevat, en ook vyf seuns van Mikal dogter van Saul. Dit was haar en Adriël seun van Barsillai van Megola se vyf seuns. 9Dawid het die seuns vir die mense van Gibeon gegee, en die mense van Gibeon het hulle opgehang op die berg by die tempel. Die sewe manne het saam gesterf. Dit het gebeur in die tyd toe die mense begin het om die gars af te sny. 10Rispa dogter van Aja het rouklere geneem en sy het dit oopgegooi oor 'n rots. Sy het daar gebly vandat hulle begin het om die gars af te sny totdat dit begin reën het. Sy het gekeer sodat die voëls nie in die dag by hulle liggame kon kom nie, en ook nie die wilde diere in die nag nie. 11Dawid het gehoor wat Rispa dogter van Aja gedoen het. Rispa was 'n byvrou van Saul. 12Dawid het toe die bene van Saul en Jonatan laat haal. Die leiers van die stad Jabes-Gilead het die bene gaan steel op die oop stuk grond in die stad Bet-San. Die Filistyne het Saul en Jonatan se liggame daar opgehang nadat hulle vir Saul op Gilboa-berg oorwin het. 13Dawid het die bene van Saul en Jonatan laat bring en hy het ook die bene van die manne wat hulle opgehang het, laat bymekaarmaak. 14Dawid het dit laat begrawe in die land Benjamin, in die graf van Kis, Saul se pa. Die graf was in 'n rots. Nadat die koning dit alles laat doen het, het God weer geluister na die gebede vir die land.
Dawid se manne maak Rafa-mense dood
(Kyk ook 1 Kron 20:4-8)
15Daar was weer oorlog tussen die Filistyne en die Israeliete. Toe Dawid eendag saam met sy manne teen die Filistyne gaan veg het, het hy moeg geword. 16Een van die Filistyne was Jisbi-Benob, hy was van die nageslag van die Rafa-mense. Sy spies was van brons en dit het 300 sikkels geweeg. Hy het ook 'n nuwe swaard gehad. Hy wou vir Dawid doodmaak, 17maar Abisai seun van Seruja het vir Dawid gehelp en hy het die Filistyn plat geslaan en hom doodgemaak. Die manne van Dawid het toe vir hom gesê: “So seker soos die Here lewe, jy sal nie weer saam met ons oorlog gaan maak nie. Jy is die lamp wat vir Israel lig gee, en niemand mag die lamp doodmaak nie.”
18Later het die Israeliete weer by die stad Gob oorlog gemaak teen die Filistyne. Sibbekai van die stad Gusa het daar vir Saf oorwin. Saf was ook van die nageslag van die Rafa-mense. 19Toe die Israeliete later weer by Gob oorlog gemaak het teen die Filistyne, het Elganan seun van Jaäre-Oregim van Betlehem vir Goliat oorwin. Goliat het van die stad Gat gekom en sy spies se steel was soos die balk van 'n weefstoel. 20Eendag was daar oorlog in die stad Gat. Daar was 'n lang man, hy het ses vingers aan elke hand gehad en ses tone aan elke voet, en hy was ook van die nageslag van die Rafa-mense. 21Hy het die Israeliete gespot, en toe het Jonatan seun van Sima broer van Dawid hom oorwin. 22Hierdie vier manne was almal van die nageslag van die Rafa-mense in die stad Gat. Dawid en sy manne het hulle doodgemaak.

Currently Selected:

2 Samuel 21: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy