YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 21

21
Gee oor en lewe
1Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee om oor te dra. Dit was toe koning Sedekia vir Pasgur, die seun van Malkija en Sefanja, die seun van Maäseja, ’n priester, na hom toe gestuur het met ’n versoek: 2“Vra tog namens ons vir die Here wat gaan gebeur. Koning Nebukadnesar van Babel is besig om met sy soldate teen ons op te trek. Miskien sal die Here vir ons ’n wonderwerk doen soos Hy al tevore gedoen het en hom laat terugtrek.”
3Jeremia het hulle geantwoord: “Gaan sê vir koning Sedekia 4die Here, die God van Israel sê: ‘Op die oomblik is julle besig om buite die mure van die stad teen die koning van Babel en die Babiloniërs wat julle omsingel het, te veg. Ek gaan julle wapens onbruikbaar maak. Ek gaan julle vyand in die hartjie van die stad laat inkom. 5Ek sal teen julle veg en julle sal my groot krag ervaar. Ek is verskriklik kwaad. Julle het My woedend gemaak! 6Ek gaan die inwoners van die stad met ’n epidemie tref. Mens en dier sal sterf. 7Nadat dit alles gebeur het, sê die Here, sal koning Sedekia van Juda, sy amptenare en van die mense in die stad die oorlog, hongersnood en siektes oorleef. Maar Ek sal hulle uitlewer aan koning Nebukadnesar van Babel en aan hulle vyande wat hulle wil dood hê. Hy sal geen jammerte vir hulle voel nie, maar hulle met die swaard doodmaak. Hy sal geen genade vir hulle hê nie en niemand laat oorleef nie.’
8“Sê vir die mense die Here sê: ‘Ek gee vir julle ’n keuse tussen lewe en dood. 9Mense wat kies om in hierdie stad te bly, sal óf in gevegte óf van siekte óf van honger doodgaan. Maar wie uitgaan en hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal bly lewe. 10Ek het besluit om hierdie stad te vernietig. Ek gaan niks goeds vir hulle doen nie, sê die Here. Ek sal die stad aan die koning van Babel oorgee. Hy sal die stad verbrand.’”
Straf vir die konings van Juda
11“Sê vir die koninklike familie: ‘Luister na die boodskap van die Here vir julle! 12Die Here sê vir die koningsnageslag van Dawid: Lewer elke dag regverdige uitsprake! As iemand besteel is, beskerm hulle en red hulle van hulle uitbuiters. As julle dit nie doen nie, sal my woede soos ’n vuur brand wat niemand kan blus nie. Dit sal gebeur oor al julle sondes wat julle doen.
13“‘Ek sal veg teen hierdie stad, teen Jerusalem, sê die Here, want julle spog mos en sê: Niemand kan ons op die berg bereik nie. Ons is onaantasbaar! 14Ek sal julle straf oor dit wat julle gedoen het, sê die Here. Ek sal ’n vuur in jou woud aansteek wat alles rondom jou sal verbrand.’”

Currently Selected:

JEREMIA 21: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy