YouVersion Logo
Search Icon

Oop Vir Die Hier En NouSample

Oop Vir Die Hier En Nou

DAY 6 OF 7

Om God in alles te mag sien

Lees Psalm 19:2-3, Matteus 6:26, Matteus 28-29 en Romeine 1:19-20.

Oordenking

Jesus se uitnodiging in Matteus 6 is dat ons éérs moet kyk en daarná goed moet oplet. Laasgenoemde benadruk hoe belangrik waarneming is. Ons waarneming moet oop genoeg wees sodat dit ons harte raak en ons van onnodige bekommernis bevry.

In die lig hiervan kan ons verstaan dat Jesus van veldblomme praat. Veldblomme is nie die spesiaal gekweekte blomme wat ons in ons tuine het nie; dit is meer soos die onkruidblommetjies wat op sypaadjies groei. Doodgewone veldblomme.

Jesus se woorde hier herinner ons aan die uitdrukking: “Skoonheid is in die oog van die kyker." Die ervaring van skoonheid lê nie in die eerste plek in wát jy waarneem nie, maar in hóé jy dit waarneem. Afhangend van hoe jy waarneem, kan die skoonheid van ’n veldblommetjie jou dieper raak as die skoonheid van ’n eksotiese blommerangskikking. Soos William Blake gesê het: "Om 'n wêreld in 'n sandkorrel te sien en die hemel in 'n veldblom."

Moet daarom nie toelaat dat jou gedagtes oor jou waarnemings jou waarnemings self inperk nie. Solank daar oop waarneming is, bly alles nuut, anders en lewend. Want daar is altyd meer variasie en rykdom in die werklikheid as in ons gedagtes. Ons gedagtes reduseer die werklikheid om dit te kan hanteer. Ons harte wil oorgaan na verwondering, maar ons gedagtes wil ons wysmaak dit is onnodig. Antoine de Saint-Exupéry het hierdie behoefte van ons harte aan verwondering raak uitgedruk in die woorde van die Klein Prinsie: “Slegs met die hart kan ’n mens goed sien. Die wesenlike is vir die oë onsigbaar.”

Goeie waarneming is nie iets wat buite jou gebeur nie. Die gewaarwording dat iets vir jou mooi is of dat jy ’n gevoel vir iets of iemand het, is ’n beweging binne-in jou.

Soms bring ’n waarneming jou ook in direkte kontak met God. Natuurlik, want die Skepper onderhou alles deur sy aktiewe teenwoordigheid. Dié teenwoordigheid is versluier en waar die sluier hier en daar effens deursigtig word, voel ons soos Job: “U wonderdade was te groot vir my … Nou het ek U self gesien” (Job 42:3,5). Jy staan sprakeloos, want jy sien iets van die Een wat nie gesien mag word nie (Eksodus 33:20). Jy beleef die Wye Ruimtes wat anderkant woorde en gedag­tes lê. En dan kan jy saam met Paulus sê die skepping laat jou dit wat van God geken kan word, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, sien (Romeine 1:19).

Vandag se oefening sal jou met jou waarneming help.

Kom ons oefen

  • Kies iets waarna jy graag meer wil kyk. Dit kan ’n blom, ’n skildery, natuurlike hout of enigiets anders in jou huis wees. Gaan sit so dat dit naby aan jou is.
  • Maak jou oë toe en voel hoe jou liggaam as geheel voel.
  • Word bewus van jou hande en laat hulle rus.
  • Doen dieselfde met jou skouer- en kaakspiere.
  • Laat die gevoel van rus nou deur jou hele liggaam versprei en sit swaarder op jou stoel.
  • Asem ’n paar keer diep uit en ervaar hoe dit jou gevoel van rus verder verdiep.
  • Maak jou oë oop en kyk na die voorwerp wat jy gekies het. Hou aan kyk totdat jy meer sien as waaraan jy gewoond is.
  • Waar is die Here vir jou in dié ervaring?
Day 5Day 7

About this Plan

Oop Vir Die Hier En Nou

Die meeste mense gaan deur die dag sonder om enige godsdienstigheid daaraan te koppel. Ons kan egter bewustelik leef sodat ons besef ons is voortdurend in die teenwoordigheid van die Ewige Een — in alles wat ons dink, doen en sê.

More