YouVersion Logo
Search Icon

Oop Vir Die Hier En NouSample

Oop Vir Die Hier En Nou

DAY 2 OF 7

Kopgeraas steel jou lewe

Lees Lukas 10:41-42, Filippense 4:6-7 en Matteus 6:25-34.

Oordenking

Is die menslike brein nie die heel wonderlikste deel van die skepping nie? Dit bestaan uit nagenoeg ’n honderd miljard neurone wat elk deur hulle duisende “puntjies” (dendriete) aan mekaar verbind is en met nagenoeg tien duisend ander neurone kan kommunikeer. Een navorser het gesê ons kan die hoeveelheid aktiwiteit in ’n mens se brein as volg probeer verstaan: "Dink aan al die padverkeer op aarde — al die motors, motorfietse en vragmotors in al die stede, dorpe en landelike gebiede wat ry en stop, wegtrek, versnel en draai. Besef dan dat daar op hierdie oomblik groter aktiwiteit in jou brein aan die gang is!"

Jou brein is werklik ontsaglik kragtig. Wanneer jy dit beheer, is dit die nuttigste instrument wat daar kan wees. Jy kan dit inspan om ’n eenvoudige takie te beplan en uit te voer of om te leer om baie ingewikkelde dinge te kan doen. Met jou brein kan jy leer om mense te verstaan, te bestuur en te motiveer, want jou emosionele intelligensie is in jou brein gesetel. Jy kan selfs jou brein inspan om die diep geheime van jou psige te begin waarneem en verstaan.

Jou brein is ook sterk genoeg om nie net een bekommernis op ’n slag te ervaar nie, maar baie prikkels van oral oor op te vang met die gevolg dat daar gedagtegeraas ontwikkel wat jou vrede verdryf. Hierdie gedagtegeraas het die vermoë om jou afwesig te maak in die oomblik waarin jy nou leef. Jou brein met al die gedagtegeraas steel dus jou lewe!

Wanneer jy bewus en teenwoordig is, is jy oopkop. Maar met kopgeraas maal onnodige gedagtes in jou kop en dan kan jy nie oopkop wees nie. Ons sien dit by Marta. Die Here is jammer dat Marta haar oor so baie dinge kwel en ontstel.

Wat help dit jou om van al die kopgeraas ontslae te raak? Jy kan stil raak en jou gedagtes leeg maak. Dan kan jy doelbewus kies om in die nóú te leef. Jou kragtige brein kán so vir jou ’n stil beheersentrum skep. Vandag se oefening sal jou ook hiermee help.

Kom ons oefen

  • Kies een ding wat jou tans pla en gee dit vir die Here. Raak stil oor dié een ding.
Day 1Day 3

About this Plan

Oop Vir Die Hier En Nou

Die meeste mense gaan deur die dag sonder om enige godsdienstigheid daaraan te koppel. Ons kan egter bewustelik leef sodat ons besef ons is voortdurend in die teenwoordigheid van die Ewige Een — in alles wat ons dink, doen en sê.

More