Eva se Dogters - Lewenslesse Van Vroue in die Bybel - Deel 1Voorbeeld

Eve's Daughters - Life Lessons From Women In Scripture: Part 1

DAG 6 VAN 7

Debora en Jael 

Daar is 'n paar vroue in die Ou Testament wat ons aanspoor om soos 'n vrou te veg ...

Debora en Jael.

Debora was 'n rigter wat saam met die Israelitiese weermag opgetrek het om teen die Kanaäniete oorlog te maak. Die hele Kanaänitiese leër is verslaan en uitgewis behalwe vir Sisera, hulle bevelvoerder, wat daarin geslaag het om te ontsnap ... tydelik. Hy het skuiling gesoek in Jael se tent waar sy 'n einde aan sy lewe gemaak het.

Dis 'n verhaal om van te hou, nie waar nie? Die slegte ouens verloor. Die goeie vroue wen.

Toe die veldslag verby is, span Debora haar musikale talent in om 'n loflied te komponeer ter ere van God vir die oorwinning wat hulle behaal het. Sy dank God vir haar én Jael se aandeel om die vyand te verslaan.

Hoe verfrissend is dit nie?

In vele van die verhoudings tussen vroue in die Bybel was hulle nie eintlik goeie vriendinne nie. Onthou jy die drama tussen Hagar en Sara? Asook tussen die susters Lea en Ragel?  

Wat het Debora anders gemaak as hierdie vroue? Sy het haarself nie met ander vroue vergelyk nie. Sy het vertroue gehad in die mens wat God haar geskape het om te wees en in die unieke rol wat Hy vir haar lewe gehad het. Toe Jael op die toneel verskyn kon Debora maklik bedreig gevoel het. Debora het egter Jael se aandeel gevier as die een wat die vyand finaal doodgemaak het.

Ongelukkig is die verhaal van Debora en Jael in die Bybel eerder die uitsondering as die reël. Ook vandag is dit nog baie kere 'n uitsondering. Ons sien steeds dat vroue sukkel in hulle verhoudinge met mekaar. Dit hoef nie so te wees nie.

In plaas daarvan om jouself met ander te vergelyk, hardloop die wedloop deur in jou baan te bly terwyl jy dit doen waartoe God jou geroep het. Kom ons is eerder bly oor die sukses wat ander behaal en vier hulle oorwinning. Daar is geen rede om minderwaardig te voel wanneer ander presteer nie; “wees bly saam met ander wat bly is.” Wanneer jaloesie die oorsaak is dat ons ander wil afbreek, moet ons hulle eerder opbou.  

Jy het nie eens nodig om soos Debora 'n lied te komponeer nie. 'n Oproep, 'n teks- of WhatsApp-boodskap, 'n gelukwensing op Facebook ... so eenvoudig is dit. Dit hoef ook nie te gaan oor iets groots soos 'n veldslag wat gewen is of 'n tentpen wat op 'n baie kreatiewe manier gebruik is nie. 

Vertel jou buurvrou haar tuin is mooi. Sê vir die meisie in die kerkkoor sy het 'n pragtige stem en sy het die moeilike solostuk perfek gesing. Is jou vriendin 'n goeie kok? Moenie dit nie net dink nie — sê dit vir haar!

Doen wat jy goed kan doen en moedig ander aan om ook hulle bes te doen. Saam kan ons heelwat probleme oorkom.

~Anu

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Eve's Daughters - Life Lessons From Women In Scripture: Part 1

Ontdek hedendaagse lewenstoepassings deur die verhale van vroue in die Ou Testament. 

More

Ons bedank Whispers & Fringes vir die voorsiening van hierdie plan. Vir meer inligting besoek asseblief http://whispersandfringes.com