DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoopVoorbeeld

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

DAG 1 VAN 40

God se plan om die wêreld te red

Die verhaal van Ragab en die val van Jerigo in 1400 v.C. staan nie op sy eie alleen nie, maar vorm deel van God se groot verlossingsplan vir die wêreld. Van Genesis tot Openbaring sien ons hoe God se plan van verlossing, soos ‘n goue draad, deur die geskiedenis gevleg is – ‘n blywende boodskap van genade, vergifnis en hoop vir ‘n gebroke wêreld.

Hierdie tema begin reeds in die tuin van Eden, ná die sondeval. In Genesis gee God die eerste belofte (moeder belofte) van verlossing dat die nageslag van die vrou die kop van die slang sal vermorsel. Dit dui natuurlik op die oorwinning wat Jesus Christus aan die kruis sou behaal. Die verlossingsplan ontvou verder deur die verhaal van Noag, waar God genadiglik die reddingsweg volbring het en die ark voorsien het.

Hierdie ark is tiperend van Christus, wat die mens van die vloed of oordeel red. Die tema van die bloed as teken van redding kom sterk tydens die uittog uit Egipte na vore. Die bloed van die paaslam, wat aan die deurposte gesmeer is, het die doodsengel daarvan weggewys om die eersgeborenes van die Israeliete dood te maak.

Hierdie daad was nie net bloot ter wille van beskerming nie, maar ook ‘n voorafskadu van Jesus, die Lam van God, wie se bloed ons van die ewige dood red. In die Ou Testament was offerandes gereeld nodig om vir sondes versoening te doen. Die offerandes van diere was egter slegs tydelik en het vooruit gewys na die eenmalige, volmaakte offer van Jesus Christus.

Die Israeliete se swerftog in die woestyn en die intog in Kanaän was ook deel van God se groter plan en verwys na Jesus wat die mens na die beloofde verlossing sal lei. Deur die Ou Testamentiese profete het God steeds die verlossingsboodskap al hoe verder bekend gemaak. Jesaja praat van die dienskneg van die Here wat geslaan en gepynig sou word ter wille van ons sondes sodat ons vrede kan hê.

In die Nuwe Testament kom die vervulling van hierdie plan in Jesus Christus na vore, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Sy geboorte, lewe, dood en Opstanding vorm die kern van God se verlossingsplan. Aan die kruis het Jesus uitgeroep: “Dit is volbring” (Johannes 19:30) en daardeur het Hy die volle prys vir ons sondes betaal.

Maar die verlossingsboodskap eindig nie by die kruis nie. In die boek Openbaring, wat vir ons uitlê wat in die toekoms voorlê word Jesus uitgebeeld as die Lam wat geslag is, waardig om eer en aanbidding te ontvang. Sy bloed het mense uit elke stam, taal, volk en nasie losgekoop om uiteindelik die belofte van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde in vervulling te bring, wanneer God vir ewig by sy volk sal wees – die einddoel van sy verlossingsplan.

Van die begin van tyd en deur die eeue heen bly God se boodskap van verlossing deur sy genade konstant. Dit is ‘n volmaakte belofte en uitnodiging aan alle mense om deel te wees van sy ewige koninkryk.

Dink vandag aan die genade van God. Sy verlossingsplan is nie ‘n toevallige of tydelike besluit nie; maar ‘n ewigheidsbestemming wat van die begin van tyd bestaan. Hierdie goue draad, wat deur die geskiedenis loop, wys hoe lief God my en jou het en hoe ver sy goedertierenheid strek. Aanvaar hierdie verlossing met ‘n dankbare hart en leef met die wete saam dat jy deel van sy groot en ewige plan is.

Gebed

Here, dankie vir u groot ewige plan van verlossing wat deur die geskiedenis gevleg is. Dankie dat U my liefhet en my gered het deur die bloed van Jesus. Help my om u volle genade met ‘n dankbare hart te aanvaar en my lewe tot eer aan U te leef. Amen.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

DIE ROOI TOU: 'n verhaal van redding en hoop

Stap saam op 'n reis van 40 dae, waar die rooi draad van genade jou lei van Ragab se venster in Jerigo tot by die kruis op Golgota. Hierdie 40-dae plan onthul hoe God se genade geen grense het nie, en hoe geloof en gehoorsaamheid 'n hele nuwe bestemming kan skep.

More

Ons wil graag Dr. Ernrich F Basson bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.collage.org.za