Kom saam, Jesus roep jouVoorbeeld

Kom saam, Jesus roep jou

DAG 6 VAN 7

DAG 6: KOM SAAM, WEES ‘N DIENSKNEG VAN GOD EN ONS HERE JESUS CHRISTUS

"Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ‘n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan" (Jakobus 4:10 DB).

Dit lyk asof Jakobus die brief geskryf het. Hy was Jesus se broer. Naas Jesus was hy die oudste van die kinders. Aanvanklik was hy net so skepties oor Jesus se bediening soos sy broers en susters, maar na Jesus se opstanding het Hy persoonlik aan Jakobus verskyn (1Korintiërs15:7). Daarna het Jakobus geglo en die uitstorting van die Heilige Gees beleef. Hy het ook ‘n baie sterk leiersrol begin speel in die kerk in Jerusalem. Later het hy bekend gestaan as Jakobus die “regverdige" of Jakobus die “geregtige.”

Ek hou baie van ons teksvers. “Buig laag voor die Here.” Ja, dien God. Wees soos Jakobus en beywer jou daarvoor om nie-gelowiges na Jesus toe te lei. Jakobus se hart was daarin om die heidene by die Christendom te verwelkom. Hy het ook evangelisasiewerk onder die Jode gedoen — veral onder diegene wat vervolg is. In Jakobus 1:1 DB lees ons die volgende oor hom: “Iemand wat God en die Here Jesus Christus dien met alles wat hy het.” Sal iemand dit van my en jou ook kan sê? Dit was belangriker vir Jakobus om homself voor te stel as ‘n dienaar van Jesus eerder as Jesus se broer.

Jakobus se brief gee vir ‘n mens baie praktiese raad soos byvoorbeeld hoe om God te dien in jou blydskap, beproewing, rykdom, armoede, versoekings en konflik. In alles moet ons ‘n gesindheid hê om te dien en om die Here te vertrou. God sal jou optel as jy so met oorgawe voor Hom buig en Hy sal jou op ‘n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.

“Wees gehoorsaam aan God en net aan Hom. Verklaar die duiwel vyand nommer een in jou lewe en gee hom nie ‘n enkele kans nie. Hy sal dan van jou af padgee omdat hy niks kan regkry nie. Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy júlle hand ook al hoe stywer vashou” (Jakobus 4:7 DB).

Kom saam en wees ook jy ‘n dienskneg van Jesus Christus!

GEBED: My Hemelvader, gee my tog die genade om u hand styf vas te hou sodat ek U kan dien in nederigheid en met oorgawe. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Kom saam, Jesus roep jou

Ek wil jou so graag meer van Jesus vertel. Daarom wil ek jou graag uitnooi: “Kom saam met my. Jesus roep jou!” Kom ons leer hierdie week saam ietsie kleins by Matteus, Markus, Lukas, Johannes, Paulus, Jakobus en Petrus. Ons gaan kyk na die briewe in die Bybel wat hierdie Jesusvolgelinge oor Hom geskryf het.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za