Oorwinning oor Beproewings - 'n Studie van 1 & 2 PetrusVoorbeeld
Voed Jou Siel
Lees: 1 Petrus 2:1-3
SOAP: 1 Petrus 2:1-2
Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelik melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry …
Oordenking
Net soos ‘n pasgebore baba melk nodig het om te groei en te ontwikkel, het ‘n Christen die regte soort voeding nodig. Wanneer babas gebore word, kan hulle nie veel vir hulleself doen nie. Maar hulle weet vir seker hoe om vir melk te vra! Niemand van ons wat al pasgeborenes gehad het, sal daardie deurdringende gehuil vergeet of hoe hard hulle kan suig totdat hulle dors geles is nie. Niks anders sal hulle bevredig wanneer hulle honger is nie.
Hoe is jou aptyt deesdae na die Woord van God? Dit gaan nie net daaroor om die Skrif te lees nie; dit gaan daaroor om toe te laat dat die Woord van God ons siele voed en ons lewens vorm (2 Timoteus 3:16-17). As ‘n baba nie skree vir melk nie, weet ons iets ernstigs is fout. Die kenmerk van ‘n gesonde baba is ‘n gesonde eetlus, net soos ‘n gesonde Christen gekenmerk word deur ‘n honger na die lewegewende Woord van God.
Ons geestelike dieet het ‘n diepgaande invloed op hoe ons leef. Wat ons inneem, beïnvloed waarna ons smag. As ons skadelike dinge inneem, kan dit ons geestelike gesondheid en aptyt vergiftig. Dit is waarom Petrus vir ons die opdrag gee om van alle bedrog, huigelary, afguns en kwaadpratery ontslae te raak. Dit is asof Petrus ons aanraai om ons “geestelike yskaste” skoon te maak en wat bedorwe is te vervang met wat goed en lewegewend is.
Onthou jy die gesegde “Jy is wat jy eet”? Wel, dit is geestelik ook waar. Dit is waarom ons aangespoor word om nie net die Woord van God te lees nie, maar ook die leringe daarin te geniet en te verteer (Matteus 4:4). Namate ons groei in ons geloof, moet ons dieet ook saam met ons aanpas en verander. Dit is nie ‘n passiewe proses nie. Dit verg ‘n doelgerigte optrede van ons kant af om ‘n dieper honger na die Woord van God aan te wakker — ‘n honger wat al hoe groter word namate ons probeer om daagliks meer soos Jesus te word (Kolossense 2:6-7).
Bestee vandag tyd om te bepaal hoe groot jou geestelike aptyt is. Smag jy so sterk na die Woord van God dat jy bereid is om ander (soms goeie) dinge prys te gee om tyd saam met Hom deur te bring? Delf dieper in die Woord van God en laat dit jou hart, jou gedrag en jou begeertes vorm. Neem die groei wat God vir jou in die vooruitsig gestel het met ope arms aan en geniet die ryk en volgehoue dieet van sy Woord.
Gebed
Dierbare Here Jesus, help ons om ‘n groeiende aptyt na u Woord te ontwikkel. Help ons om te smag na die diep, ryk waarhede van u Woord sodat ons meer soos U kan wees. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Petrus was 'n passievolle en toegewyde dissipel, 'n "ooggetuie van die lyde van Christus." Hoewel hierdie twee briewe eeue gelede geskryf is, spreek dit steeds tot ons hedendaagse uitdagings en bied hoop. Dit is 'n onontbeerlike kompas om die lewe in moeilike tye te navigeer. 1 en 2 Petrus is 'n herinnering aan God se blywende liefde, die belangrikheid van standvastige geloof en die belofte van die ewige lewe.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans