My Tyd - Sy TydVoorbeeld
Dag 3: Tyd = Gehoorsaamheid
Psalm 90:12: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.”
Ek het eenmaal gelees: “Goeie voornemens is nie gelyk aan gehoorsaamheid nie.” Lees dit weer.
Hoeveel keer wéét ons dat daar iets is wat ons moet sê of doen, maar kom net nie sover om dit af te handel nie. Ons bly uitstel, met goeie redes en argumente, of so dínk ons.
Tyd. Dis ons almal se probleem en tog ons elkeen se voorreg om te hê. God gee ons tyd. Hy maak tyd en verpak dit elke dag in 24-uur bondels van genade, gereed vir ons om te gebruik. Ons tyd? Nee, dit is sy tyd wat in ons hande gesit word vír ons om te gebruik. Ons tyd word verdeel tussen werk, kinders, persoonlike take, finansies, té veel spanning en ingekleurde propvol dagboeke. Natuurlik gebeur die lewe, die bogenoemde dinge is deel van ons tyd.
Die vraag lê in hóé ons alles doen. Vra ons God vooruit om elke sekonde van vandag se 24 uur in ons ore te fluister? Vertrou ons Hom genoeg om selfs die oormaat spanning te ontrafel sodat ons optimaal kan funksioneer? Ek en jy is mens, deur God se eie hand geskape. Ons kan níé sonder Hom funksioneer nie.
Dink weer aan die stelling hierbo. Wat is belangriker, voornemens of gehoorsaamheid? Onthou, die horlosie tik. Elke sekonde dra gewig, ‘n ewigheidswaarde wat nóú bepaal word. Terwyl jy hier lees, hardloop jou gedagtes reeds die dag vooruit óf gaan jy die oomblik, die hier en nou, doelbewus saam met Hom aangryp?
Môre kan ver voel, maar dalk, wie weet, kan dit jou laaste wees. Wat gaan jy nalaat of ongedaan laat? Is daar êrens in jou dagboek 'n inskrywing met die woord “gesinstyd”? Is daar vandag tyd daarvoor?
Gebed: Here elke sekonde van my dag wil ek ervaar dat U by my is. Ek vra dat U my insig sal gee om my tyd met wysheid te gebruik. Ek wil aan U gehoorsaam wees.
Ruim tyd vir jouself in en skryf doelbewus neer watter dinge dit is wat te veel van jou tyd in beslag neem. Wees eerlik met jouself en vra die Heilige Gees om aan jou te openbaar wat jy moet doen. Daar is tyd daarvoor … nou!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
So dikwels gebruik ons die term “God se tyd is nie ons tyd nie” of “my tyd is in sy hande”. Ons verwys selfs na wat in die Woord staan; dat eenduisend dae vir God soos een dag is. Hierdie leesplan werp ‘n ander lig op die woord "tyd". Dalk is hierin iets van waarde en om deur ‘n ander bril na "tyd" te kyk.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com/