Jesus, Ons Groot HoofpriesterVoorbeeld
Jesus, die Volmaakte Offerande
Ons almal offer gereeld tyd, energie, geld en ander hulpbronne op om ons naasbestaandes te ondersteun. Die wonderlike waarheid is dat Christus Homself vir ons geoffer het. Sy liefde vir ons is só groot dat Hy gesterf het vir sondes wat Hy nie gedoen het nie. Jesus, ons groot Hoofpriester, het ons sonde eens en vir altyd versoen. Ons hoef nie voortdurend offers te bring of betrokke te raak in tradisies wat nie gegrond is op die begrip dat Hy die volmaakte offerande is nie. Hy het Homself namens ons geoffer en die straf gedra wat vir ons bedoel was. Jesus nooi ons om deel te hê aan die nuwe verbond met Hom: ʼn permanente, intieme verhouding met die versekering dat Hy ál ons skuld gedelg het.
Die tradisionele offers wat steeds in sekere kulture gebring word, is soortgelyk aan die proses wat die antieke Jode gevolg het om keer op keer terug te gaan na die tempel waar die priesters een offer ná die ander sou bring. Die volk was egter nooit ten volle en finaal met God versoen nie. Die offers by die tempel het natuurlik gedui op iets – of Iemand – wat sou kom: die hoogste soenoffer, Jesus.
Vandag se Skrifgedeelte uit Hebreërs verduidelik die nuwe, en beter, verbond wat Jesus ons bied. Die aanvanklike hoofpriesters was beperk deur die dood, hulle moes voortdurend offers bring en hulle was swak. Jesus, aan die ander kant, se priesterskap duur vir altyd en Hy leef vir ewig voort. Hy is sondeloos en volmaak in sy mag.
Het jy dalk al "The Lion, The Witch and The Wardrobe" in "The Chronicles of Narnia" deur C. S. Lewis gelees of die fliek gesien? In die verhaal offer Aslan vrywilliglik sy lewe op vir die skuldige verraaier, Edmund. Ons is almal nes Edmund in die verhaal, ons staan skuldig op alle aanklagte en ons verdien die dood. In sy oorvloedige barmhartigheid stuur God egter die volmaakte offerande om in ons plek te sterf, sodat ons met Hom versoen kan word. God begeer ʼn verhouding met ons, daarom het Hy sy Seun, Jesus, gestuur om ons met Hom te versoen. Verlossing was nog van altyd af sy bedoeling en daarom het Hy dit moontlik gemaak.
Dank God dat Jesus die enigste volmaakte offerande vir jou sonde is. Jy hoef nie offers te bring aan voorvaders, of enige iemand anders, nie. Jesus, jou ewige Hoofpriester, het Homself eens en vir altyd geoffer. Wanneer jy jou aan Hom onderwerp, bou jy ʼn lewendgewende verhouding met God die Vader en bekom jy ʼn ewige erfporsie.
Aangaande hierdie leesplan
Die meeste van ons is nie vertroud met die rol van ʼn hoofpriester nie, so wanneer Jesus so beskryf word in die Woord kyk ons dit maklik mis – dit is net nog een van sy vele titels. Godfrey Mmagawo sien dit egter heeltemal anders. In hierdie 4-dag leesplan verduidelik hy hoe ʼn skynbaar onbelangrike stukkie Joodse kultuur groot implikasies het vir hoe ons deesdae met kultuur omgaan.
More
Ons wil graag in Harmonie bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.inharmonie.co.za/