Fokus op dankbaarheidVoorbeeld
Sê dankie met jou lewe (soos Asaf)
Wanneer dit vakansietyd is, is daar soveel mense vir wie ek wil dankie sê wanneer ons teruggaan. Daar is iemand wat na ons swembad kyk en ook ons huissleutel het, sou iets verkeerd gaan. Daar is ’n vriendin wat die potplante gereeld water gee. Dan is daar iemand wat gehelp het dat my gras gesny word. Ek praat nie eers van die mense wat weer hulle huis in die Kaap tot ons beskikking gestel het nie! Ek soek in elke winkel ietsie spesiaal en eie aan die Kaap om vir hulle te gee wanneer ons teruggaan huis toe.
Die Here sê vir Asaf dat om geskenke vir Hom te bring wonderlik is. Hy sien die mense se harte en hulle opregte bedoelings en dis vir Hom goed en aanneemlik. Wat Hy egter wil hê, is jou hele lewe. God wil hê dat jou hele lewe een groot dankie vir Hom moet wees. Leef met sy hart op aarde: Kyk waar daar nood is en kyk waar daar versoekings is. Tref nood met die spoed van lig en jaag weg van die sonde teen die spoed van lig. Dis hoe jy Hom kan behaag met ’n lewe wat elke dag die hele dag vir God dankie sê.
Of is jy ook een van daardie mense wat so een keer per maand stilstaan en besef dat die Here goed is vir jou? Dit natuurlik nadat jy tien keer baie ongelukkig was omdat dinge nie na jou smaak verloop het nie. Nee, leef ’n lewe wat elke dag vir die Here dankie sê. Maak ’n verskil so ver as wat jy gaan. Vlug weg van sonde en help mense in nood.
Here, laat my lewe ’n dankie-sê-lewe wees. Ek wil U elke dag volg met my hele hart.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
’n Positiewe gesindheid van dankbaarheid lei daartoe dat ’n mens gelukkig is. Dit lei daartoe dat ’n mens meer positief teenoor die lewe is. Dit maak dat ’n mens mooi en goeie dinge wat met jou gebeur opreg waardeer. ’n Dankbare mens is ’n opgeruimde mens en trek ander mense aan. Moenie goeie dinge wat met jou gebeur as vanselfsprekend aanvaar nie. Kies vir ’n ingesteldheid van dankbaarheid.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/