Tyd om te kyk hoe jy lykVoorbeeld
Frons ... met hoop?
Filippense 4:11: “Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed en tekort. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee.” (NLV)
‘n Oud-onderwyseres vertel hoe een van haar jong seuns leerlinge, haar met 'n vraag tot stilstand gedwing het: “Juffrou, hoekom frons jou lyf?” Sy vra toe: “Hoe bedoel jy skat?” “Jou gesig frons as jy kwaai is, maar jou lyf frons ook!” Sy besef toe dat hy na haar arms, gesig en nek verwys, tekens dat sy nie meer so jonk is nie. “Dis plooie jou liewe ding!” het sy hom reggehelp. En toe die vraag: “Is juffrou se lyf kwaad?”
Interpretasie. Ons sien almal die tekens. Net soos Paulus wat elke moontlike kant van die lewe al gevoel en beleef het. Blaai deur ‘n foto-album of loer deur jou Facebook-foto's en jy besef hoe vinnig tyd verby genael het. Soms wil ek net stilstaan in ‘n spesifieke tydgleuf, daar waar geliefdes nog verskyn, om ‘n “fronsende” hand weer vas te hou en die wysheid te vóél.
My lyf frons ook meer as voorheen. Party dae peuter ek voor die spieël en wonder tot watter ouderdom die Vader my gaan toelaat om op hierdie aarde rond te loop. Na hoeveel fronse gaan ek in die hemel wakker word?
Daar is iets oor hierdie “frons”-gedagte wat my aangegryp het: elke frons op my lyf en gesig is 'n bewys dat genade my tot by vandag gedra het. Die fronse op my voorkop is die bewys van baie vrae of opwinding, die lyntjies om my oë is ‘n bewys van lag asook pyn.
Vertel jou lyf die storie hoe die lewe jou tot nou toe verpak het? Ja, ouderdom speel ‘n rol wat sekere fronse betref, maar daar is altyd dáárdie paar wat ‘n storie vertel, geheime bewaar, pyn kamoefleer. So baie keer is daar mense wat dink dat hul niks meer kan bied nie omdat hul ouer is; omdat hul meer “frons” as ander, die lewe voluit ervaar het.
Ek het gehoor van ‘n tannie wat as gevolg van haar ouderdom, nie geglo het sy kon enigsins meer ‘n verskil in die wêreld maak nie. Sy het jare lank getrou haar stoel in die kerk warm gesit, tot eendag wat sy ‘n roering in haar hart beleef het. God het haar (vol van fronse) nogtans geroep om vreemdelinge van Hom te vertel. Een vir een …
Na 14 jaar en op die ouderdom van 84, het sy 3 436 individue raakgeleef deur vir hulle te bid en hul name in 'n boek neer te skryf.
Sy het hoop gesaai ... met ‘n sagte vriendelike “frons”. Haar minderwaardigheid is vervang deur die Gees wat haar sagkens daarop attent gemaak het dat God self besluit wie Hy kan gebruik — in elke omstandigheid.
Ons moenie dat ouderdom inmeng met wat ons dínk ons nié kan doen nie; moenie jou eie aannames aanvaar as die waarheid nie, deel daardie stories! Moenie die “fronse” op jou lyf gering ag nie, daar is wysheid in elke een — wat weer hoop vir ‘n ander kan gee!
Gebed: Vader, plant in my hart daardie iéts wat ek vir U kan doen. Ek wil nie en gaan nie die leuen aanvaar dat ek nie meer betekenis in die wêreld kan saamdra nie. Wys my hoe! Mag al my lag-“fronse” getuig van u goedheid.
Hoop kom in verskeie vorme. ‘n Nota aan iemand wat swaarkry, ‘n glimlag vir ‘n vreemdeling. ‘ n Oor wat luister wanneer iemand hul hart met jou deel. Wees net beskikbaar wanneer jy voel die Heilige Gees jou bewus maak. Jy sal beslis weet wanneer!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Elke mens kyk daagliks in die spieël. Ons sien onsself ingekleur en toegedraai vir die dag wat wag. Baie keer stap ons weg met soveel meer wat torring aan ons voorkoms, maar wat is dit regtig? Hoe "lyk" ek in my denke, my hart en gees? Hoe lees ander mense my en wat kies ek om "aan te trek"?
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/