Dis Tyd!Voorbeeld
DAG 6 Hoe ver is dit tot by die wenpaal?
1 Timoteus 6:12: “In die goeie wedloop van geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê."
Elke dag... dis hoe ver. Daar is wonderlike pitkos wat 'n mens kan aanhaal om die wenner in jouself na vore te laat kom.
Die lewe het baie uitdagings. Ons moet kophou en aanhou... Ons vriend Paulus verwys na ons elkeen as atlete in die wedloop van die lewe in 1 Korintiërs 9:24: “Weet julle nie dat atlete wat aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.” 'n Mens hoor sommer die deuntjie van Chariots of Fire as agtergrond vir hierdie vers.
Ek en jy is volkome mens met foute en lywe wat letterlik moeg word. Om aan te hou deurdruk kan ook ietwat kneus. Ons streef om elke dag die blokkiesvlag te sien. Ons moet onthou dat elke asemteug diep ingetrek moet word en dat dít waarmee ons vertrou word, vandag suksesvol afgehandel moet word.
Elke dag is ‘n nuwe kans! Ons kan soveel tyd mors deur onder andere sepies op TV te volg of deur te onttrek om op sosiale media te gaan rond kyk. Ons hardloop ‘n afloswedloop wanneer dit ons pas en gaan “rus” skuins duskant die wenstreep.
Basta met die verskonings, gedagtes en emosies! Jy mag dit voel, maar onthou: hierdie gevoelens is dalk goeie metgeselle, maar beslis nie goeie leiers nie. Daar is net 24 uur binne elke dag verpak. Jy is die een wat besluit hoe vandag gaan eindig gegewe die realiteite binne jou spasie.
Here, ek besef daar is ‘n blokkiesvlag by die eindstreep van my lewe. Help my, Heer, om vandág te omhels en die stokkie van my wedloop na môre te oorhandig met die sekerheid dat U my sal versterk!
Komaan, jy kan dit doen! Lig op jou kop en hardloop vorentoe tot by die blokkiesvlag met die Woord van ons Heer as jou stokkie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe bied talle uitdagings wat 'n mens nie aldag verstaan nie. Maar om heeltyd daarop te fokus, is nie gesond nie. Ons kan vorentoe beweeg, tree vir tree - dis tyd!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/