Christus, ons Koningin EsterVoorbeeld

Christus, ons Koningin Ester

DAG 2 VAN 3

Ester se verhaal herinner ons dat ons met ons geboorte hierdie wêreld binnekom belas met ʼn nalatenskap van geestelike doodsheid en dat ons magteloos is om dit te verander of om te keer. Haar verhaal herinner ons ook aan Jesus wat in alle opsigte nes ons mens geword het om ten volle met ons geestelike magteloosheid te kan identifiseer.

Ons hervat ons ondersoek van die boek Ester waar die Jode regoor Persië in sak en as geween en gevas het om hulle misnoeë met Haman se volksmoord-plan te kenne te gee (Ester4:1-3). Mordegai het dit ook gedoen, sommer daar by die ingang van die paleis waar hy geweet het hy raakgesien sou word. Ester kom toe daarvan te wete en sy stuur haar kneg om by Mordegai te gaan hoor wat aangaan. So vind sy uit van Haman se bose plan om haar volk uit te roei. Mordegai stuur toe ʼn boodskap aan Ester waarin hy by haar pleit om namens haar volk op te tree deur hulle saak aan die koning te stel. Ester se reaksie is basies: “Is jy mal?” Om die koning ongenooid te nader, sou ʼn onmiddellike doodsvonnis beteken. Mordegai dring egter daarop aan. Hy herinner Ester aan die unieke en magtige posisie wat sy in die paleis beklee en hy inspireer haar met die volgende woorde: “Wie weet of dit nie miskien juis met die oog op ʼn tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!”

God het vir Ester op die troon geplaas nog lank voordat die Jode totale uitwissing in die gesig gestaar het sodat sy in daardie gevaarlike omstandighede reeds geposisioneer was om hulle te kan help. Teen daardie tyd was Ester al vir vier jaar koningin, maar steeds het niemand in die koninklike hof geweet dat sy ʼn Jood is nie. Sy sou ʼn enorme risiko loop om met haar volk te identifiseer, maar sy het ook geweet dat dit die enigste manier is om hulle te help. Ester stuur toe weer ʼn boodskap aan Mordegai en vra hom om al die Jode in die stad Susan bymekaar te maak en hulle te vra om te vas terwyl sy voorberei om na die koning toe te gaan.

Weereens sien ons vir Jesus in hierdie verhaal. Nes Ester is Hy ook nie aanvanklik herken vir wie Hy werklik is nie (Johannes 1:1-11). En nes Ester, wat haarself verneder het om met haar volk te identifiseer, het Jesus in elke opsig net soos ons geword met sy menswording sodat Hy met ons kon identifiseer en ons saak bepleit by die Koning van alle konings (Hebreërs 2:14-18).

Miskien bevind jy jouself tans in ʼn situasie waar dit vir jou voel asof God nie sien waardeur jy gaan nie, of miskien dink jy Hy gee nie om nie. Weet egter dat ten spyte van wat jy ook al tans in die gesig staar, identifiseer Jesus volkome met jou, in elke liewe opsig. Hy sien jou, Hy het jou lief en Hy kan jou red.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Christus, ons Koningin Ester

Die boek Ester is ʼn verstommende verhaal van waagmoed en liefde en tipeer ook Jesus se verhaal. In hierdie drie-dag leesplan ondersoek Dr. Kwasi Amoafo hoe die Ou Testamentiese verhaal van Ester parallel loop met die evangelie en ʼn fantastiese prentjie skets van ons geestelike verlossing deur Jesus wat met ons geïdentifiseer het, ingegryp het en ons verlos het toe ons magteloos was om onsself te red.

More

Ons wil graag vir Emmanuel Kwasi Amoafo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://returningtothegospel.com/rev-canon-dr-emmanuel-ki-amoafo/