Die Evangelie Volgens PaulusVoorbeeld

The Gospel According To Paul

DAG 2 VAN 5

Die Noodsaaklike Elemente van die Boodskap

Die evangelie van Jesus Christus is 'n boodskap van Goddelike vervulling. Dit is 'n aankondiging dat Christus reeds oor sonde en die dood geseëvier het, ten behoewe van sondaars wat sonder hoop is en slegs deur geloof in Hom verlos kan word. Dit is ‘n godsdiens wat op genade berus. Die klem is op wat God reeds vir sondaars gedoen het.

Om egter te besef hoe so 'n boodskap goeie nuus is, moet 'n persoon homself herken as 'n ellendige sondaar wat nie in staat is om self 'n voldoende versoening te bewerkstellig nie en dus magteloos is om enige regverdige verdienste op sy eie te bewerk — nog minder om verlossing vir homself te verkry. Die sondaar moet die gewig van sy skuld voel en weet dat God 'n regverdige regter is wat nie sonde goedkeur nie. Trouens, hy of sy moet bereid wees om te bely dat volmaakte geregtigheid die veroordeling van skuldige siele vereis.

Dit gee 'n duidelike boodskap dat die werklikheid van sonde en die hopelose toestand van die gevalle mensdom 'n noodsaaklike beginpunt vir die evangelie se goeie nuus is. Daarom begin die evangelie volgens Paulus met 'n skuldigbevinding wat op die hele mensdom van toepassing is. “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie." Iemand wat nie in Christus glo nie, is "reeds veroordeel". “Wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom." Of, soos Paulus in die aanhef tot sy briljante opsomming van die evangelie in Efesiërs sê: ongelowiges is "dood as gevolg van julle oortredings en sondes," wat lewe "soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mens wat aan God ongehoorsaam is" deur julle sondige begeertes oorheers, "en het gedoen net waartoe [julle] luste [julle] gelei het en wat in [julle] gedagtes opgekom het."

Die goeie nuus is egter dat ware gelowiges met Christus verenig is "deur geloof" en daarom is hulle ook "in Christus". God aanvaar hulle en seën hulle op daardie basis. Dit is hoe Hy "die goddelose regverdig”. Hy voorsien aan hulle 'n geregtigheid wat nie hulle eie is nie — 'n buitengewone geregtigheid, wat aan hulle toegereken word.

Paulus beklemtoon hierdie waarheid baie duidelik in sy eie getuienis. Hy het gesê sy hartsbegeerte is om "een met [Christus te] kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo."

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

The Gospel According To Paul

Gesaghebbende Bybeluitlêer en -leraar, John Macarthur, ondersoek die apostel Paulus se onderrig oor die goeie nuus van Jesus. In hierdie vyf-dag leesplan sal jy verskeie belangrike vrae oorweeg, insluitend: Wat is die evangelie? Wat is die belangrikste elemente van die boodskap? Hoe kan ons seker wees dat ons dit korrek verstaan? Hoe moet Christene die goeie nuus aan die wêreld verkondig?

More

Baie dankie aan John MacArthur en Thomas Nelson wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://bit.ly/2j1ESbU