Hoe Gaan Dit Met Jou Siel?Voorbeeld
Hoekom Het My Siel Hoop?
Het jy al gewonder hoekom ons kersies op verjaardagkoeke sit en hulle doodblaas? In geen ander oomblik in ons lewens waar kos betrokke is, moedig ons iemand aan om oor ons kos te blaas nie. Ek gaan nie na 'n restaurant toe, bestel 'n halfgaar kruisskyf en vra die kelner om sy asem daaroor te blaas nie, nè? Halfgaar met 'n druppel spoeg.
Dit is egter 'n belangrike deel van verjaardagpartytjies. Ek het 'n wesenlike probleem daarmee. Ek het al grootmense koek sien eet waaroor hulle vierjarige kind geblaas het. Dink 'n bietjie daaroor. As jy ooit 'n klein kindjie sien kersies doodblaas het, weet jy dis nie net skoon lug wat oor die gebak sweef nie.
Daar is nog 'n tradisie wat deel vorm van verjaardagpartytjies wat net so verwarrend is soos om kersies dood te blaas, en dit is om 'n wens te maak. Het ons dit goed deurdink? Ek onthou my dertiende verjaardag. Ek was in graad sewe en Chelsea, wat nou my vrou is, was by my partytjie. Ek het die kersies doodgeblaas en my ma het oorgeleun en vir my gevra: "Het jy 'n wens gemaak, seun?"
Ek hét gewens — ek het gewens dat Chelsea my sou soen. Ek het dit nie vir my ma vertel nie. Ek het net gesê: "Ja, ma." Maar ek het gewens en gehoop vir 'n soen van my geliefde.
Dit het nie gebeur nie. Wel, eintlik het dit gebeur toe ons getroud is. Ek het egter in graad sewe vir 'n soen gehoop.
Ek het nog nie iemand ontmoet wat beweer dat 'n verjaardagwens hulle drome laat waar word het nie.
Almal glo in hoop, ons waardeer hoop en bevorder hoop. Daar is niks daarmee verkeerd nie — Jesus se volgelinge behoort mense met hoop te wees. Kom ons wees nou eerlik. Hoe gaan hoop ons help? Hoe is hoop enigsins beter as 'n verjaardagwens? Hoop alleen kan nie mismoedigheid oorwin nie. Hoop kan nie omstandighede verander nie. Het hoop arms en bene wat ons kan red? Eintlik is hoop nie regtig hoop nie.
Hoop is noodsaaklik vir die mens se siel, maar ons moet seker maak dat ons hoop op iets meer as wense gebaseer is. Hoop is net so kragtig soos dít waarmee dit geassosieer word.
Dit is wat ons hoop in Jesus so 'n veilige plek vir ons siele maak. Hebreërs sê: "... en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, 'n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek" (Hebreërs 6:18-20).
As volgelinge van Jesus is hierdie hoop uniek tussen alle ander hoopvolle dinge op aarde. Ons emosies, planne, verhoudings of finansies het nie 'n invloed op ons hoop nie, omdat dit in Jesus geanker is. Ons siele het 'n vaste, onwankelbare anker waarnatoe ons kan gaan. Sy Naam is Jesus en ons hoop in Hom sal nooit beskaam nie.
Reageer hierop
Wat is party dinge waarvoor jy gewens het wat nie gebeur het nie?
Het jy al ooit sonder hoop gevoel? Hoe het dit jou siel beïnvloed, veral oor 'n lang tydperk?
Hoekom is Jesus die beste bron van hoop vir ons siele?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Judah Smith help lesers om hulle siele te ondersoek en te voed, terwyl hulle nader aan God groei.
More