Nuwejaar: 'n Nuwe BeginVoorbeeld
Lewe met 'n Nuwe Gesindheid
Een van die beste maniere om 'n beter lewe te lei, is om 'n beter gesindheid te hê. Wanneer ons volgelinge van Jesus Christus is, is ons nuwe skepsels. Daarom kan ons elke aspek van ons lewens met 'n hernude gesindheid benader. Ons word ook onderrig oor die soort houding wat ons moet hê. Dit is die soort gesindheid wat ons 'n nuwe benadering tot die lewe sal gee en sal lei tot 'n blywende aangenaamheid in ons lewens.
In Filippense 2 skryf Paulus dat ons nie die gesindheid moet hê wat algemeen is onder die gevalle mensdom nie, maar eerder dieselfde gesindheid as wat Jesus gehad het. Ons moet die lewe benader soos Jesus dit benader het. Ons natuurlike neiging is om ons besluite te neem en op te tree uit selfsug en verwaandheid, om na ons eie belange om te sien en onsself belangriker as ander te beskou. Met ander woorde, ons het 'n trotse, selfsugtige houding wat byna altyd ons eie behoeftes en begeertes eerste stel. Hierdie tipe houding sal sekerlik die kwaliteit van ons lewens verminder, want dit sal ons verhoudings skade aandoen en ons ontevrede laat, sodat ons altyd nog iets meer sal wil hê. Ons word aangesê om dieselfde gesindheid as Jesus te hê. Hierdie ingesteldheid is egter heeltemal anders as ons normale neiging.
Jesus het alle rede gehad om trots te wees, vol van Homself te wees en Homself te verlustig in die feit dat Hy God is. Jesus het egter nie probeer vashou aan sy “status” as God nie. In plaas daarvan het Hy Homself van sy heerlikheid ontledig. Hy het menslike vlees aangeneem en as baba aarde toe gekom. Hy het 'n gesindheid van nederigheid gehad, gedemonstreer vanaf die oomblik van sy geboorte in 'n dierestal. Sy eerste bed was 'n voerbak vir diere. Hy het 'n nederige aankoms gehad en het in 'n eenvoudige gesin en in 'n doodgewone dorp grootgeword.
Deur sy aardse lewe het Hy die hart van 'n dienskneg vertoon, wat kom, "nie om gedien te word nie, maar om te dien." Hy was totaal gehoorsaam aan die Vader, selfs tot die punt om sy lewe ter wille van die mensdom op te offer. Hy was onselfsugtig, nie selfsugtig nie; gehoorsaam, nie eiesinnig nie; nie daarop uit om alles te wen nie, maar bereid om alles prys te gee.
Dieselfde Jesus wat elke dag die voorbeeld van die regte gesindheid geleef het, leef nou in die harte van diegene wat hulle lewens aan Hom gegee het. Die Heilige Gees kan ons bemagtig om dit uit te leef.
Dit is 'n nuwe jaar, en nou is die tyd om 'n nuwe gesindheid van onbaatsugtige, opofferende liefde uit te leef en elke dag daardeur verander te word.
Aangaande hierdie leesplan
'n Nuwe jaar is gelyk aan 'n vars nuwe begin. Dit is 'n tyd om nuut te begin, te herlaai en opnuut te konsentreer op wat die belangrikste in jou lewe is. Om die beste jaar ooit te hê, begin in die wete dat jy deur Jesus vernuwe is. Leef nuut in die nuwe jaar!
More