5 Minute Saam Met GodVoorbeeld

5 Minute Saam Met God

DAG 5 VAN 10

U ken my toekoms


Jan Koum en Brian Acton het vir nege jaar lank saam by Yahoo gewerk. Nadat albei by Yahoo bedank het, het hulle by Facebook aansoek gedoen, maar nie een se aansoek was suksesvol nie. Saam het hulle egter WhatsApp ontwikkel – ’n app wat Facebook in 2014 vir $19 miljard by hulle gekoop het. Koum is toe aangestel as die uitvoerende hoof van WhatsApp by Facebook. 

Net soos in die geval met Koum en Acton klap deure soms ook in ons gesig toe. Ons doen aansoek by daardie “droommaatskappy”, maar is onsuksesvol; daardie verhouding wat ons gedink het in ’n huwelik sou eindig, sneuwel; die huwelik waarvoor ons so hard geveg het, eindig; daardie siek persoon vir wie ons gebid het, sterf.

Met elke toe deur of teleurstelling wat ons beleef, moet ons doelbewus kies om ons fokus na God te skuif en weg van die toe deur af. Hy ken ons elkeen se toekoms. Hy weet wat agter die toe deur lê en Hy weet ook waar Hy beplan om ’n volgende deur vir ons oop te maak. 

Wat sou gebeur het as Koum en Acton se aansoek by Facebook suksesvol was? Sou WhatsApp ooit die lig gesien het? Ek is seker nie een van die twee is nou spyt dat hulle aansoeke destyds onsuksesvol was nie. 

Kom ons begin om vir God dankie te sê vir toe deure. Nie net is dit ’n geleentheid om te groei, nuwe dinge te ontdek en God in die proses beter te leer ken nie, dit is dalk al wat ons nodig het om ons eie WhatsApp te ontdek.


’n Toe deur is ’n geleentheid om te groei en God beter te leer ken.


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

5 Minute Saam Met God

Die lewe kan soms soos een groot uitdaging voel. Maar God is nie ver en onbetrokke nie. Ons moet egter elke dag sy teenwoordigheid opsoek, of dit nou in daardie afgeknypte vyf minute is of intensiewe Bybelstudie. Wanneer jy deur geloofsoë kyk, sal jy God reg langs jou sien! Hierdie leesplan is saamgestel uit 5 MINUTE SAAM MET GOD deur Benescke Janse van Rensburg.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/