In Liefde Gegrond: Om die Christelike Lewe Voluit te LeefVoorbeeld
Herskep na die Beeld van Christus
Antieke spieëls was nie so duidelik soos ons s'n vandag nie. Daar was altyd 'n wasigheid oor hulle, maar tog kon hulle steeds die beeld voor hulle weerkaats. In 2 Korintiërs, gebruik Paulus die beeld van 'n spieël om te verduidelik hoe ons verander en groei om aan die beeld van Christus gelyk te word. In hoofstuk drie, ondersoek hy die idee dat, anders as Moses in die Ou Testament, wat sy gesig met 'n sluier moes bedek sodat die glans van God se heerlikheid op sy gesig nie die volk moes verblind nie, het God Homself nou deur die gesig van Jesus Christus aan ons geopenbaar, want "... die sluier is van ons gesig af weggeneem ..." (2 Korintiërs 3:18b) sodat ons die heerlikheid van die Here kan sien. Terwyl ons na die heerlikheid van Christus kyk, sy medelye, sy nederigheid, sy dade van genesing, sy onderrig, sy dood en opstanding, word ons "... al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word ..." (2 Korintiërs 3:18b), net soos 'n spieël die beeld voor dit weerkaats.
Die vierde-eeuse Christelike teoloog, Gregory van Nyssa, het hierdie beeld gereeld gebruik: Die menslike natuur is baie soos 'n spieël in sy vermoë om vanuit sy vrye wil te verander na aanleiding van verskillende indrukke. Plaas 'n pot goud voor 'n spieël en dit sal 'n pot goud weerspieël omdat dit dieselfde glans weerkaats as die ware materie. Net so, sal dit 'n afskuwelike beeld weerkaats omdat dit die lelikheid naboots. As byvoorbeeld 'n padda, 'n duisendpoot of enigiets anders wat walglik is om na te kyk voor die spieël geplaas word, sal dit bloot daardie materie weerkaats.
Gregory se punt kom hierop neer, of jy paddas en duisendpote "walglik" vind of nie: Net soos wat 'n spieël die kleure en vorms aanneem van wat voor dit geplaas word, is ons ook geneig om die vorms en beelde aan te neem van dit waarop ons fokus. Antieke spieëls was van gepoleerde metaalplate gemaak en daarom was die beeld dikwels 'n bietjie onduidelik. Dit help ons om te verstaan dat al weerkaats ons die beeld van wat ons sien nie perfek nie, dat dit waarna ons kyk steeds bepaal wat met ons siele gebeur. Met ander woorde, dit maak saak waarvoor ons tyd gebruik om na te kyk. Alles wat ons lees of na kyk op televisie, webtuistes, YouTube of Netflix, vorm ons op geringe subtiele maniere in 'n positiewe of negatiewe rigting. Afhangend van wie ons volg of wat op ons blaaie verskyn, kan die ure wat ons bestee aan Twitter, Facebook of Instagram, ons gemoed lig of in donker dieptes aftrek. Die raad van Paulus, asook Gregory en vele ander wyse Christene uit die verlede, is om seker te maak ons gedagtes en harte word gevul met dit wat lewegewend, eerlik en wys is. Jesus het gesê: "Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!" (Matteus 6:22-23). Wat jy deur jou oë toelaat, beïnvloed jou hart meer as dit wat jy in jou maag inneem. Dit dui in besonder op die belangrikheid van aanbidding. As ons daagliks aandag skenk aan die God van Jesus Christus en veral wanneer ons op Sondae bymekaarkom en die Heilige Gees vra om Jesus vir ons werklik te maak, word ons mettertyd verander na die beeld van Christus wat ons aandag in beslag neem. Dit roep ons op om aanbidding, gebed en Bybellees, 'n prioriteit te maak. Ja, daar is soms tye wat ons ons gereelde aanbidding gaan misloop, maar ons moet probeer om die gewoonte te behou om aandagtig en gereeld in die gesig van Jesus Christus te kyk, sodat ons, net soos daardie outydse spieëls, sy beeld kan aanneem terwyl ons tot volwassenheid groei.
Vrae vir nadenke
1. Hoe kan jou huidige wyse van aanbidding, gebed en Bybelstudie jou Christelike groei verhinder?
2. Watter klein treetjie kan jy neem om aanbidding meer die middelpunt in jou lewe te maak?
3. Watter klein verandering kan jy maak om 'n beter weerkaatsing van Christus te wees?
Dankie dat jy hierdie leesplan gevolg het! Indien jy dit geniet het, kyk asseblief na die volledige boek: "Rooted in Love", beskikbaar op Amazon of van SPCK.
Aangaande hierdie leesplan
Hoe kan ons meer Christus-gesentreerde lewens leef? Hierdie 7-dag leesplan, is gebaseer op "Rooted in Love," 'n boek vir die Lydenstyd deur al die area biskoppe in die Bisdom van Londen. Dit is propvol praktiese bemoediging en hoop om jou as 'n dissipel te help groei en maniere te vind om God elke dag die middelpunt van jou lewe te maak.
More