God se Woord vir jouVoorbeeld

God se Woord vir jou

DAG 7 VAN 7

Luister jy?

Ek onthou hoe ek saam met my pa en my oupa aan my ma se kant visgevang het. Ons drie het altyd in my oupa se boot gesit — ’n vyf meter lange boot met ’n klein Evinrude-motor van vyf en dertig perdekrag aan die agterkant.

Die baai waar ons altyd visgevang het, was gewoonlik ’n stil watermassa, veral in die oggendure voor sonop. Wanneer my oupa die motor afgeskakel het, het ons ons lyne ingegooi om vis te vang. In daardie dae het ek ’n lang rietvisstok gebruik. Ek het my lyn in die water gegooi en dan het ons in stilte gesit. Die water was so stil dat wanneer my lyn in die water geland het dit klein rimpelings al om die lyn gemaak het.

Wanneer die water so stil was, was dit spieëlglad. Ek het gou geleer as daar ander bote op die water was, kon ons elke woord hoor wat die mense sê, selfs al was hulle honderde meters van ons af. (Ons kon sonder enige moeite afluister.) Ek kan nog onthou hoe my pa met ’n glimlag gesê het: “Luister, ou seun. Jy sal baie leer.”

Wanneer ons God se Woord bestudeer en aan ander leer, is dit goed om te onthou dat ons idees en insigte en woorde sekondêr moet wees; ons primêre rol is om te luister en toe te laat dat God se Woord en sy Gees tot ons spreek. In elke teksgedeelte is daar ten minste een groot geestelike les; ons wil nooit daardie les misloop nie. Daar kan ander, kleiner boodskappies wees, maar daar is altyd een besonder belangrike les wat dalk daarin uitgespel word. Dit is ons verantwoordelikheid om ons daarin te verdiep en te luister!

Wanneer die Skrif behoorlik bestudeer en oorgedra word, sal God se Gees dié wie se harte honger is vir Hom aanraak en intrek. Wil jy nie deel wees van hierdie groot afloswedloop om God se Woord te ontvang en dan met ander te deel nie?

DINK-TYD

Hoe dink jy kan dit lyk om na God se Woord te luister? Watter volgende stap kan ons neem om die Skrif nog meer toe te pas en met ander te deel?

Hierdie oordenkings is saamgestel uit GOD SE WOORD VIR JOU deur Charles Swindoll © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

God se Woord vir jou

“Die Bybel is meer werd as alle ander boeke wat al ooit gedruk is” (Patrick Henry). Charles Swindoll wys jou hoe om die waarhede in dié belangrike Boek jou eie te maak en in jou lewe toe te pas. Jy sal daagliks geestelik verryk word wanneer jy leer om die ewige waarhede van die Woord te verstaan. Hierdie leesplan is saamgestel uit GOD SE WOORD VIR JOU.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://cumbooks.co.za