Lewe Veranderd: VoorsieningVoorbeeld

Toets God Hierin
'n Oordenking saam met Leah
In Christelike kringe beskryf mense dikwels vir God as ons Voorsiener. Dit beteken nie dat God soos 'n uitsonderlik begaafde gees in 'n bottel is nie, gereed om vir ons enigiets te gee waarvoor ons vra. Ek glo egter dit beteken dat Hy vir ons die begeertes van ons harte gee wanneer daardie begeertes met sy wil ooreenstem.
Regdeur die Bybel sien ons bewyse van God se vrygewigheid. In die begin het God Eva vir Adam gegee sodat hy nie alleen sou wees nie. Hy het vir Hanna ’n kind gegee nadat sy vir etlike jare gebid het om swanger te raak. Natuurlik het God vir ons die beste geskenk van alles gegee toe Hy sy Seun, Jesus, gestuur het sodat ons die ewige lewe saam met Hom kan hê.
God gee vandag nog vir ons gawes. Hy gee ons vrede, krag, vertroosting en wysheid. Hy is getrou om in elke behoefte van ons te voorsien. In ruil daarvoor vra Hy ons om Hom te soek, tyd saam met Hom deur te bring en Hom te vertrou. Hy vra ons om beheer aan Hom oor te gee en ons lewens in totaliteit aan Hom toe te vertrou. Hy wil eerste wees in elke gebied van ons lewens, selfs ons finansies.
Alle goeie dinge wat ons het, kom van God af. In werklikheid behoort alles aan Hom. Wanneer Hy hierdie gawes aan ons gee, verwag Hy van ons om daarna om te sien en goeie rentmeesters daarvan te wees. Hy verwag onder andere dat ons ons tiendes gee deur die eerste 10% van ons inkomste aan Hom terug te gee as 'n skenking aan ‘n plaaslike kerk.
Tiendes gaan nie oor wat God van ons wil hê nie, maar wat Hy vir ons wil hê. Wanneer ons in ooreenstemming met sy wil lewe en ons tiendes gee, is Hy getrou om ons te seën. Dit mag dalk nie die seën wees wat ons verwag nie, maar God is altyd getrou aan sy Woord. God nooi ons selfs deur sy profeet Maleagi, om Hom te toets, en sê wanneer ons tiendes gee, Hy die sluise van die hemel sal oopmaak en ons met meer sal seën as waaraan ons kan dink wat om daarmee te doen!
Jare gelede het my gesin deur 'n ekonomies verwoestende bankrotskap gegaan. Dit het sleg met ons persoonlike en onderneming se finansies gegaan en ons het babas gehad om te voed. Ons was louwarm in ons geloof, maar die finansiële verwoesting het ons na 'n plek gebring waar ons nie geweet het wat anders om te doen as om God te vertrou nie. Ons was bang toe God ons harte beweeg om te midde van hierdie tydperk tiendes te gee. Dit is een ding om tiendes te gee wanneer die geld vloei, maar dit het gevoel soos 'n geweldige sprong om tiendes te gee toe ons elke sent nodig gehad het, net om kop bo water te hou.
Ek kan nog die gevoel van oorgawe onthou en het toe vir God gevra om Homself te bewys. Ons het nie brandstof of kosgeld vir die week gehad nie, maar ons het in elk geval gegee. Toe gee 'n kennis een aand by die kerk vir my 'n tjek en sê sy gee altyd iets vir iemand wanneer hulle 'n hond aangeneem het (wat ons onlangs gedoen het). Verbasend genoeg was dit genoeg om ons deur die week te kry. Haar geskenk aan ons was heeltemal uit die bloute en dit het ons geloof versterk.
Ek sê nie wanneer jy tiendes begin gee, dat God vir jou tjeks van vreemdelinge af sal stuur nie. Wat ek sê, is wanneer jy beheer oor jou finansies prysgee en kies om God eerste te stel, Hy sy seëninge oor jou sal uitstort op maniere wat jy jou nie kan voorstel nie.
Aangaande hierdie leesplan

Ons dien 'n vrygewige God wat belowe om in elke behoefte van ons te voorsien. Al laat Hy nie alle wense waar word nie, doen Hy tog wonderwerke. God geniet dit om vir ons geskenke te gee, want Hy gee baie om vir ons, selfs tot in die kleinste besonderhede. Hierdie 5-dag leesplan verken verhale van God se voorsiening, hoe om jou geloof te versterk en jou aan te moedig om God eerste in jou finansies te stel.
More