VrygespreekVoorbeeld
Genade is ‘n permanente werkwoord
God is lief vir ons, maak nie saak wat ons doen of sê nie. Niks kan ooit maak dat Hy ons minder lief sal hê nie, niks nie. Natuurlik beteken dit nie ons het carte blanche om sonde te doen nie. As ons so dink, verstaan ons net mooi niks van sy genade nie. Dan het ons eintlik nog nie egte hemelse genade ervaar nie.
Nee, genade is ’n Goddelike werkwoord in die lewe van elke ontvanger daarvan. Dit kos God nie net ongelooflik baie werk om ’n genadepad tot reg voor ons elkeen se lewe te bou nie. Ja, dit ook! Maar daarna gaan sy genadewerk in ons lewe onverpoos voort. Genade is nie ’n eenmalige gebeurtenis en dan is dit oor en verby nie. ’n Mens praat daarom nooit oor genade in die verlede tyd nie. Dit is nie ’n saak waarop ons kan terugkyk asof dit lankal afgehandel is nie.
Genade is ’n proses, ’n lewenslange aktiwiteit in ons elkeen se lewe. God bly lewenslank met ons besig. Hy bewys nie ’n eenmalige dosis genade en verskuif dan vinnig na ’n nuwe adres toe nie. Nee, as Jesus se genade ons die dag getref het, is ons van dan af vir altyd in die greep van genade. Goddelike genade is onvoorwaardelik, blywend, lewenslank. God hou van ons net soos ons is. Hy vat ons as ons op ons heel slegste is, naamlik as ons sondaars is. Hy kom haal ons op die slegste punt in ons lewe, net voordat ons pens en pootjies in die doderyk instort. Nou hoe op dees aarde sal God ons dan ooit prysgee as ons iewers langs die lewenspad weer ’n knik slaan? Elke keer begin God oor en voor met ons. Onvoorwaardelik, nuut, vars. Nooit word die vloei van hemelse genade in begenadigdes se lewe onderbreek nie.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie dagstukkies herinner ons dat ons geloof gebou is op God se oneindige groot genade vir ons. In ‘n wêreld waar daar maar baie min genade te sien is, soms veral in die kerk, kom spreek God ons deur Jesus Christus vry van alle skuld en sonde. Ons kan met geruste hart as vry kinders van God leef. Hierdie leesplan is gebaseer op Stephan Joubert se boek VRYGESPREEK!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/