EmosiesVoorbeeld
Jesus Het Ons Gewys Hoe Vreugde Lyk
Die meeste van ons wil graag geluk vind en pyn vermy. Alhoewel daar niks mee verkeerd is om gelukkig te wees nie, is ons diepste roeping nie om gelukkig te wees nie. Dis om heilig te word — vir God afgesonder te wees. Terwyl dit dus aanloklik is om na geluk te smag, belowe Jesus egter iets beter. In Jesus kan ons ware vreugde vind.
Kom ons kyk na die verskil:
Geluk is 'n bewegende teiken.
Vreugde is 'n blywende keuse.
Geluk hang van eksterne omstandighede af.
Vreugde spruit uit innerlike vrede.
Geluk is 'n gevoel.
Vreugde is 'n vrug van die Gees.
Geluk sê dit gaan alles oor my.
Vreugde sê dit gaan oor die Gees wat in my leef.
Geluk sê pyn is 'n probleem om te vermy.
Vreugde sê pyn het 'n hoër doel.
Geluk sê ek sal weer reg wees wanneer dinge ten goede verander.
Vreugde is blywend, want God verander nooit nie.
As ons op soek is na 'n gelukkige, sorgvrye lewe, gaan ons bitter teleurgesteld wees. Ons kan egter ware vreugde in Jesus vind.
Vreugde is nie die afwesigheid van pyn nie. Dit beteken dat pyn en vreugde saam kan bestaan. Dit beteken nie vreugde sal al ons probleme laat verdwyn nie. Vreugde gee aan ons pyn 'n nuwe perspektief.
Dink net aan al die kere wat die Skrif van vreugde te midde van 'n moeilike omstandigheid praat — nie ten spyte daarvan nie:
"... en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God" Hebreërs 12:1-2.
"... Ons verheug ons ook in die swaarkry,want ons weet: swaarkry kweek volharding ... " Romeine 5:3.
"... julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom" Jakobus 1:2.
Wanneer ons sukkel om vreugde te vind, kan ons na Jesus kyk. Hy het net soos ons swaarkry ervaar. Hy het egter die pyn gewilliglik verduur, want Hy het die vreugde van sy doel geken.
Wanneer ons deur beproewings gaan, kan ons hulle ook as vreugde ervaar vanweë die manier waarop dit ons leer om God te ken, op God staat te maak, op God te vertrou, en 'n dieper intimiteit met God te ontwikkel. Dit beteken nie dat ons nie pyn, hartseer of woede kan of sal ervaar nie. Dit beteken net ons kan gelyktydig groot vreugde en verskriklike pyn ondervind weens die blywende hoop en vreugde wat ons in Jesus het.
Bid: Jesus, dankie dat U vir ons vreugde gegee het en ook die voorbeeld van hoe dit lyk. Help my om die vreugde in elke probleem en beproewing wat ek in die gesig staar, te oordink — selfs wanneer dit 'n uitdaging is. Help my om na U te kyk om die pyn te verduur ter wille van die vreugde van my doel. Gee my volharding, krag en vreugde dwarsdeur my dag, en dankie dat U belowe het om by my te wees ongeag wat gebeur. In die Naam van Jesus, amen.
Aangaande hierdie leesplan
Die meeste van ons probeer ons emosies vermy of ignoreer. Ons mag selfs wonder of ons geloof en gevoelens nie dalk vyande is nie. Jesus het egter erge emosies gedurende sy tyd op aarde ervaar. Hy was nie van ons gedistansieer nie. Hy is by ons — selfs gedurende ons emosies. In hierdie sewe-dag leesplan, vergesel deur die Pastoor Craig Groeschel se reeks, "Emotions", gaan ons kyk hoe Jesus geleef het, om sodoende te ontdek hoe ons gevoelens moontlik ons geloof mag versterk.
More