Onverwagse Tuisskool Onderwyser Voorbeeld
Onvoorsiene Onderbreking
Dalk is jy steeds biddend besig om te besluit of jy jou kinders die komende skooljaar tuis sal hou, of dalk het jy reeds hierdie onvoorsiene besluit geneem. Selfs al is jy 'n werkende ma is dit moontlik. Soek 'n ander gesin met wie jy 'n vennootskap kan vorm of met wie jy kreatiewe idees oor jou kind se tuisonderrig kan deel. Net soos jou gesin, behoort jou tuisskool ook uniek te wees! Jou huis is nie 'n klaskamer nie, dus hoef jy dit nie in een te omskep nie. Ons het skoolwerk saam op die rusbank of by die kombuistafel gedoen. Daar is dikwels op die trampolien of in die hangmat gelees. Laat jou eie leefwyse die toon aangee en onthou, die lewe is 'n skool.
Ek vergelyk tuisonderrig dikwels met potjiedissipline. Kinders leer dit nie op dieselfde manier of teen dieselfde spoed nie, en julle kan die proses óf spanningsvol óf pret maak. Uiteindelik slaag dit met baie moeite en konsekwentheid! Die wonder van tuisonderrig is, dat net soos potjiedissipline, dit uiteindelik in plek val. (My vermoede is dat daar weinig kinders is wat aan die einde van hulle skooljare steeds doeke dra.) Jou kind sal stelselmatig selfgemotifeerd raak en kies om sy of haar akademiese taak sonder enige aansporing van jou kant te doen — ten minste die meeste van die tyd.
Wat jou mag verbaas is hoe vinnig jou kinders hulle skoolwerk sal afhandel. Die tyd wat dit neem om 'n handjievol kinders te onderrig verskil heeltemal daarvan om 'n klas vol kinders te onderrig.
Vir baie jong kinders, is dit wenslik om die leerwerk vir die dag in kleiner segmente te verdeel. Jy sal hulle aandag vir sowat tien minute op 'n slag kan hou. Moenie hierdeur frustreer word nie. Vir ouer kinders, selfs in die hoërskool, kan jy werk op hoogstens drie ure leersessies — hetsy uit boeke of aanlyn.
Sommige dinge wat ons as gesin saam gedoen het om al die oorblywende ure te vul, was om hardop uit 'n boek te lees. Wanneer jou kinders oud genoeg is, kan hulle beurte maak om 'n hoofstuk saam met jou te lees. Dit is 'n goeie familie aktiwiteit, net soos bordspeletjies, en tema-gebaseerde aandetes. Betrek die kinders by koskook, die saamstel van kruidenierslyste en begrotings. Gee skoonmaak takies wat by hul ouderdom pas en maak dit deel van hul daaglikse roetine en lewensopvoeding.
Gepraat van roetine, vestig dit! Dit moet nie rigied wees nie, maar maak voorsiening vir onverwagte onderbrekings. Jy en jou kinders sal egter daarby baat as julle weet wat volgende moet gebeur. Daar sal egter ook dae wees wanneer die emosies hoog loop en almal 'n wegbreek nodig het. Maak die boeke toe en gaan parkie toe, of na 'n museum, of reël om 'n ander tuisskoolgroepie by die park te ontmoet.
Baie belangrik, moenie probeer om tuisonderrig op jou eie aan te pak nie. Vind 'n ervare tuisonderrig ma wat bereid is om met jou te praat wanneer jy handdoek wil ingooi en opgee. Soek 'n ondersteuningsgroep van ma's wat mekaar ondersteun op hierdie nuwe reis — of oorweeg dit om jou eie ondersteuningsgroepie te stig. Skep ook geleentheid vir jou kinders om saam met hulle vriende te verkeer, hetsy by die kerk, uitstappies, sport of selfs deur FaceTime-oproepe. Aangesien ons geskep is om gemeenskap met ander te hê, is hierdie interaksie baie belangrik vir jou en hulle geestelike welstand.
Laastens, jy moet verwag dat die vyand jou dikwels deur die loop van 'n dag sal besoek met beskuldigings en leuens. Hy gaan jou probeer oortuig dat jy 'n verkeerde keuse gemaak het en liewer na die norm moet terugkeer. Hy wil hê jy moet hom glo dat jou kinders met hulle skoolwerk agter is, dat jy nie 'n gekwalifiseerde onderwyser is nie, dat hierdie hele situasie net té onnatuurlik vir jou gesin is. Hou vas aan jou oortuigings. Vra God wat Hy te sê het oor hierdie eiesinnige gedagtes en bestry hierdie leuens met die waarheid. Dit sal jou "wat as" omkeer in geleenthede en jou bekommernisse in gebede!
Jy is jou kind se heel beste onderwyser en daar is niemand anders wat beter gekwalifiseerd is om vir sy of haar toekoms te sorg nie. Kinderjare en opvoeding hou nie vir ewig aan nie en jy mag nooit 'n beter geleentheid kry om met jou kinders kontak te maak as juis gedurende hierdie onderbreking nie. Die waardevolste en onvoorsiene verrassing is egter hoe baie groei en verandering ten goede hierdie ervaring in jou sal bewerkstellig.
Dit gaan beslis nie maklik wees nie. Wat ek jou wel kan verseker, is dat dit in elke opsig vir jou én vir jou kinders die moeite werd gaan wees. Daar gaan vir seker aanpassings wees, maar God het jou nie by hierdie punt gebring om sonder sy krag te probeer deurdruk nie. Ongeag of jy hierdie pad kies vir 'n jaar of vir die res van hulle oorblywende skooljare, gordel vas vir een van die wonderlikste tuimeltreinritte van jou lewe! Onthou, Jesus is jou veiligheidsgordel wat jou nooit in die steek sal laat nie.
Vader, wat nou? Ek erken dit. Ek is baie bang hiervoor. Ek bid dat U my met innerlike vrede sal vul en my hart rustig sal maak. Lei my asseblief tree vir tree op hierdie reis. Ek kies om op U te wag, eerder as om voort te gaan en op my eie insig staat te maak. Ek wil nader staan sodat ek u sagte fluistering kan hoor bo die geblêr van my vertwyfeling en "wat as". Ek kies om my persoonlike begeertes aan U ondergeskik te stel in belang van ons gesin en ter wille van die rit. Ek weet U is met my. Dankie vir u troue liefde!
Kontak Robin by:Instagram
Ons vertrou dat hierdie leesplan jou bemoedig het. Kyk ook na ander bronne van YouVersion.
Aangaande hierdie leesplan
Jy het waarskynlik nooit gedroom dat jy jouself in hierdie posisie gaan bevind waar jy sulke moeilike besluite oor jou kinders se onderwys sal moet neem nie. Maar nou, in hierdie ongekende tyd, is jy besig om tuisonderrig te oorweeg. Hierdie leesplan deur die veteraan tuisonderrig ma, Robin Meadows, is só geskryf dat dit sekere van jou vrae sal beantwoord, baie van jou vrese sal besweer, en jou sal bemoedig dat mét Jesus alles moontlik is!
More