Hoekom Is Dit So Moeilik Om Te Vergewe?Voorbeeld
Josef
Ons vind die verhaal van Josef in Genesis, die eerste boek in die Ou Testament. Hy is die seun van Jakob, vir wie God uiteindelik 'n nuwe naam, Israel gegee het. Josef het baie swaargekry in sy lewe, want sy broers het hom op 17-jarige ouderdom as slaaf verkoop.
Kort nadat Josef in Egipte aangekom het, is hy aan Potifar, die hoof van die lyfwag verkoop. Genesis 39 vertel ons: "Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom", en dit het ingesluit om in Potifar se diens te werk. Josef het uiteindelik Potifar se persoonlike slaaf geword en is oor sy hele huishouding aangestel.
Alhoewel dit gelyk het asof alles goed gaan in Potifar se huis, het sy vrou moeilikheid gemaak. Sy het herhaaldelik seksuele toenadering by Josef gesoek, maar hy het aangehou om met integriteit op te tree. Genesis 39:10 sê inderwaarheid: "Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap." Ongelukkig is Josef in die tronk gegooi waar hy vir die volgende dekade aangehou sou word vir iets wat hy nie gedoen het nie.
Beide hartseer en swaarkry was algemeen in Josef se jong lewe, tog het hy nie opgehou om hard te werk en met integriteit op te tree nie. Alhoewel dit prysenswaardige karaktertrekke is, vind ons die mees indrukwekkende les wat ons uit Josef se lewe kan leer, in sy vermoë om sy broers te vergewe. Hulle het hom erg verraai, maar tog het hy gekies om hulle te vergewe en die groter prentjie te sien.
In Genesis 50:20 sê Josef: "Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het." Toe Josef 17 was en as slaaf verkoop is, het hy nie geweet hoe God besig was om al die besonderhede van sy toekoms uit te werk nie. Josef kon bitter en kwaad gewees het, maar hy het in plaas daarvan hard gewerk, ongeag van waar hy was en wat sy omstandighede ingehou het. Soos wat die tyd verbygegaan het, het Josef verstaan waarom hierdie dinge gebeur het.
Almal van ons het al deur moeilike tye in ons lewens gegaan. Sommige daarvan is deur iemand anders veroorsaak, en ander het ons oor onsself gebring. Ongeag van die manier hoe ons in ongewensde omstandighede beland het, God kan dit sekerlik tot ander se voordeel gebruik.
Miskien het iemand jou so erg verraai dat jy nie dink dat jy enigiemand ooit weer sal kan vertrou nie. Jy kon miskien 'n verlies in jou lewe ervaar het wat jou hoop soos mis voor die son laat verdwyn het. Hierdie tipe gebeurtenisse is nie genotvol nie, maar die manier hoe jy daardeur stap en genees word, kan die sleutel tot jou eie vryheid, sowel as iemand anders s'n wees.
Is daar 'n area in jou lewe waar jy bitterheid koester en iemand moet vergewe vir hoe seer hulle jou gemaak het? Vra God om dit aan jou te openbaar. Hy sal op die regte tyd vir jou wys hoe Hy jou uit jou pyn, tot iemand anders se voordeel, kan verlos.
Aangaande hierdie leesplan
Almal van ons het vergifnis nodig. Ons hanteer dit egter soms as opsioneel, terwyl dit in werklikheid 'n voorvereiste vir groei in ons geloof is. In hierdie 5-dag leesplan gaan ons hoop en waarheid oor vergifnis uit verskillende Bybelverhale ontdek, soos wat ons dit ontvang en ook aan ander gee.
More