Die Stryd in jou Gedagtes DagstukkiesVoorbeeld
Groter Dinge
"Daarom sê Ek vir julle, hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ’n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie?... Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek?" - MATTEUS 6:25-27
Die duiwel voer voortdurend oorlog teen die stryd in die gees. Ons siel is die tasbare gebied tussen ons gees - die plek waar God self woon - en ons liggaam. Dit bestaan uit ons gedagtes, wil en emosies - dit vertel ons wat ons dink, wat ons wil hê en hoe ons voel. Wanneer ons gedagtes voortdurend deur besorgdheid, bekommernis en angs gebombardeer word, sal ons Godgegewe innerlike stem van insig en begrip verdoof word. In hierdie onstabiele toestand weet ons nie meer wat God se wil is met betrekking tot wat ons moet en nie moet doen nie.
As ons toelaat dat die duiwel ons gedagtes oorval met kommer en angstigheid, in plaas van om die Gees van God te volg, leef ons die vleeslike lewe, en dit hou ons buite die wil van God. Romeine 8:8 sê ‘’...Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig kan maak nie.’’ Dit beteken nie dat God ons nie liefhet nie. Dit beteken bloot dat Hy nie tevrede is met vleeslike gedrag nie en dit ook nie aanvaar nie.
God gee om vir ons en ons behoeftes. Hy wil groter dinge vir ons hê as wat ons vir onsself wil hê. Ons moet hard veg om die versoeking te weerstaan om die eindelose leuens van die duiwel te aanvaar. Toe ek uiteindelik moeg was omdat ek geen vrede in my lewe gehad het nie, het ek besluit om te doen wat ek nodig gehad het om te doen. Ek het God gevra wat ek moet doen. Sy antwoord was duidelik: ‘’Joyce, jy moet op 'n dieper vlak begin leef.’’ Uiteindelik het die Here dit aan my duidelik gemaak dat die dieper vlak waarop ek moes lewe, die vlak van die Gees was.
Jesus het gesterf om ons ‘n oorvloedige lewe te gee, en om dit werklik te kan geniet moet ons ophou om ons te bekommer oor wat ons dink en nodig het, en die aanwysings van die Heilige Gees volg. Dit is die teenvoeter teen kommer. Dit maak nie saak of jou behoefte kos, ‘n werk, die regte klere, die beste skole vir jou kinders, jou toekoms of die toekoms van jou gesin is nie - God weet en God gee om. Die truuk van Satan is om te fluister: “God gee nie om vir jou nie. As God regtig omgegee het, sou jy nie in hierdie gemors gewees het nie.’’
As ons op onsself fokus - op wat ons nié het nie - het ons min energie oor om op ander te fokus en uit te reik om hulle te help. Ons skenk nie geld as ons bang of bekommerd is dat ons ons werk sal verloor of nie genoeg het om ons eie rekeninge te betaal nie. Maar wanneer ons op God vertrou om in elke behoefte te voorsien, is ons vry om te deel wat ons het.
Laat ek jou aanmoedig om nie meer oor jou eie behoeftes bekommerd te wees nie en eerder op die Woord van God te konsentreer. Miskien moet jy dalk hardop vir jouself sê: ‘’God het my lief, en niks kan my van sy liefde skei nie. Hy het my belydenis van sonde gehoor en my vergewe en gereinig. God het 'n positiewe plan vir my toekoms, omdat sy Woord so sê. ” (sien Romeine 8:38-39; 1 Johannes 1:9; Jeremia 29:11)
Elke keer wanneer kommer en angs jou geregtigheid, vrede en vreugde wil probeer steel, vind uit wat die Woord van God sê en maak dan jou mond oop en spreek die Woord. Die uiteindelike doel van God is om ons tot die punt te bring dat ons, ongeag wat aangaan, kalm bly. Wie gaan ons kalm hou? Die antwoord op daardie vraag is: die krag van die Heilige Gees wat binne-in ons werk. God wil hê dat ons die gewoonte moet kweek om na Hom te hardloop vir genade om die leuens van die duiwel te weerstaan. Uiteindelik sal die waarheid seëvier en ons lewe verander!
My hemelse Vader, dankie dat U vir my sorg en dat U my die versekering gee dat U in elke behoefte sal voorsien wat ek het. Ek het te dikwels toegelaat dat bekommernisse insypel en my vreugde of my vrede steel. As gevolg van bekommernisse oor klein dingetjies kon ek soms nie fokus op die groter dinge in hierdie lewe wat U vir my doen nie. Bevry my, in die Naam van Jesus Christus, van die dinge wat my bind, sodat ek volkome vry kan wees om U te aanbid en te dien. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie dagstukkies sal jou toerus met inspirasies van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel, te oorwin ... noem maar op. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot om jou te verwar met sy leuens, vernietigende denkpatrone te konfronteer, 'n oorwinning te vind in die transformasie van jou denke, krag te kry, aanmoediging en die belangrikste, oorwinning oor elke geveg in jou gedagtes.
More
Ons wil graag Joyce Meyer Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://tv.joycemeyer.org/afrikaans/