VerhoudingsdoelwitteVoorbeeld
"Die Gewer van Verhoudings"
Ons moet na die skepping teruggaan vir 'n tweede oordenking, want dit lê die grondslag vir ons begrip aangaande verhoudingsdoelwitte. Stem jy saam?
God het die son, maan en hemelruim geskep en gesê: "Dit is goed." Hy het water en droë grond gemaak en gesê: "Dit is goed." Hy het plante soos spinasie en kool gemaak, en toe vir my, al die bestanddele van gesonde sielskos, en gesê: "Dit is goed." Daarna het Hy die seediere soos Willy, Nemo en Flounder gemaak, asook die wilde diere soos Timon, Pumbaa en Simba, en gesê: "Dis goed." Nadat Hy vir Adam gemaak het, het Hy gesê: "Dis baie goed." Alles was goed.
Kort daarna het God egter vir die eerste keer gesê: "Dis nie goed nie." Dis nie God wat verbrou het nie — Hy maak nooit foute nie. Daar het iets kortgekom: "Verder het die Here God gesê: 'Dit is nie goed dat die mens alleen is nie'" (Genesis 2:18).
Hierdie beginsel is ook vir al Adam se kinders waar. Dis nie goed vir jou om alleen te wees nie. Dis nie goed vir my om alleen te wees nie.
Wanneer ons 'n beskermde en afgesonderde lewe lei, kom die vyand om ons aan te val. Wanneer ons geïsoleerd is, is die risiko groter om na leuens te luister oor wie ons is en om te glo dis waar.
Ons het almal verhoudings met ander mense nodig om ons aan die waarheid te herinner en die leuens te verdryf, wat aan ons harte die liefde kan betoon wat dit so nodig het, en wat ons op ons lewenspad kan help. God weet dit. Dis hoekom God ons in verhoudings wil sien.
Is dit moeilik om te glo dat 'n groot gedeelte van God se plan vir jou lewe verhoudings insluit?
Hy wil hê jy moet 'n beste vriend hê, al het die vorige een jou in die rug gesteek. Hy wil hê jy moet leraars en raadgewers hê wat vir jou 'n veilige plek kan skep om te groei en te word wat jy moet. Hy wil hê dat jy in 'n huwelik moet wees wat werk en wat vol liefde, eer, respek en pret is. Toegegee, jou vorige verhoudings was dalk net die teenoorgestelde hiervan. God is egter 'n Redder; dus kan Hy enigiets neem wat gebroke is, en dit vir jou ten goede laat meewerk.
Bring tyd saam met God deur, dank Hom vir jou bestaande verhoudings en vra Hom om jou in nuwe verhoudings in te lei wat jou sal help om sy doelwitte vir jou lewe te kan bereik.
Aangaande hierdie leesplan
As jy vir #RelationshipGoals op sosiale media soek, kry jy heel moontlik beelde van perfekte verliefde paartjies. Hoe nou gemaak as daardie beeld van 'n verhouding net 'n hersenskim is van wat die samelewing voorhou? Pastoor Michael Todd het hierdie boek geskryf: "Relationship Goals: How to Win at Dating, Marriage, and Sex", oor hoe om verhoudingsdoelwitte te hê wat van God af kom en wat in lyn is met wie Hy ons gemaak het om te wees.
More