Wat is Geestelike Oorlogvoering?Voorbeeld
Die Skild, Helm en Swaard (Die Wapenrusting van God — deel 2)
Ons het gister die eerste drie komponente van die wapenrusting van God bespreek. Vandag gaan ons kyk na die volgende drie — die Skild van Geloof, die Helm van Verlossing en die Swaard van die Gees.
Die Skild van Geloof
Die skild het aan die soldaat 'n groot mate van beskerming teen aanvalle gebied. Dit was nie iets wat hy moes "aantrek" soos die helm, gordel of borsharnas nie, maar iets wat hy moes "opneem." Baie soos die soldaat, is ons verplig om ook ons deel te doen met die skild van geloof. Ons kan dit nie net aan die arm vasmaak nie. Ons moet "dit opneem" en op ons geloof staatmaak, sodat ons beskerm kan wees teen die geestelike pyle. Wat is daardie pyle? Enigiets waarmee die Satan ons konfronteer, wat teen God se waarheid gemik is. Ons is 'n "... maat van geloof ... " gegee (Romeine 12:3) en as ons op Hom vertrou, sal ons geloof groei. Deur ons geloof in God te beoefen en sy waarheid en beloftes te glo, word ons beskerm soos 'n skild 'n soldaat teen pyle of koeëls beskerm. Omdat die vyand met leuens na ons toe kom, ons beledig en in versoeking stel, kan ons hierdie pyle van hom afweer met ons skild van geloof.
Die Helm van Verlossing
Vir die soldaat was die helm altyd die laaste ding wat hy aangetrek het. Die helm is die noodsaaklikste deel van die wapenrusting, want dit beskerm die kop. Wanneer ons die helm van verlossing dra, beskerm dit ons teen die leuens en planne van die Satan. Die vyand wil ons laat twyfel en laat wonder of God lief is vir ons en of ons enigsins gered is. Hierdie helm beskerm ons gedagtes teen sulke aanvalle. As mismoedigheid oor ons pad kom, kan ons hoop en vertroosting vind in die wete dat Jesus ons van die straf van sonde gered het en die hoop van die ewige lewe gegee het.
Die Swaard van die Gees
Die swaard was deur die soldaat gebruik om homself mee te verdedig, maar ook as 'n aanvalswapen. Terwyl die soldaat al die ander dele van die wapenrusting aangehad het, sou hy sonder 'n swaard net 'n liggaam gewees het wat met staal bedek was. Die swaard van die Gees is die Woord van God, en is beide 'n beskermer vir ons en 'n vernietiger van die Satan. Hebreërs 4:12-13 beskryf die Bybel as "... lewend en kragtig ... skerper as enige swaard met twee snykante ..." Ons kan ons swaarde swaai deur die Woord van God te gebruik wanneer ons in 'n geestelike geveg is, omdat dit tot diep binne-in ons innerlike wese sny en God se waarheid bekendmaak. Jesus het die Woord van God gebruik toe Hy deur die Satan in die wildernis versoek is, en ons behoort dit ook te doen. Ons moet die Woord van God ken om dit te kan gebruik, sodat ons die oorwinning kan behaal. Swaarde raak mettertyd stomp, maar vir dié wat in Jesus glo, is gereelde bestudering van die Woord 'n wonderlike slypsteen.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer ons kies om Christus te volg, is ons betrokke in geestelike oorlogvoering. Dit is onsigbaar en dikwels subtiel, maar net omdat ons dit nie kan sien nie, beteken nie dat dit nie bestaan nie. Ons geestelike vyand begeer om ons lewens te ontwrig, sodat ons in ellende sal moet leef. In hierdie 5-dag leesplan gaan ons leer hoe om oorwinning te behaal deur op God se krag staat te maak, want dit is beskikbaar. Ons moet dit net begin gebruik.
More