Lewe Veranderd: Na EgskeidingVoorbeeld

Agternasit
Al is die tydperk na 'n egskeiding regtig moeilik, kan dit saam met God ook aangenaam wees. Wanneer alles anders wegval en Hy al is wat jy het, kan jy makliker sien hoe lief God jou het.
Toe ek in die kerk grootgeword het, het ek gehoor hoe God die 99 skape los om agter die een wat verlore is, te gaan. Ek het egter nie altyd verstaan dat sy meedoënlose agternasit van ons nie ophou by verlossing nie. Die waarheid is, Hy sal ons nooit verlaat nie en Hy sal nooit ophou om ons agterna te sit nie. Soos ek meer bewus geword het van God se strewe, is ek beter in staat om sy teenwoordigheid in my alledaagse lewe te herken en te weet ek is nie alleen nie.
God se agternasit lyk vir almal anders. Dit is spesiaal vir elke persoon aangepas. Ek was nog altyd lief vir sonsondergange, veral dié wat die lug met diep rooi en oranjes verf. Toe ek jonger was, het ek na die sonsondergang gekyk en verlief geraak op God se skepping. Nou besef ek, die ontsag wat ek voel wanneer ek na 'n pragtige sonsondergang kyk, is een van die maniere waarop God met my hart praat. Dit is sy manier om vir my te sê: "Ek weet hoe baie jy hiervan hou, en Ek het aan jou gedink." Dit herinner my aan sy liefde wanneer ek dit die nodigste het.
Die eerste troue wat ek na my egskeiding bygewoon het, was moeilik. Ek het vir die grootste deel van die aand nie emosioneel gereageer nie — tot by dans vir getroudes. Dit is die dans waar al die getroude paartjies op die dansvloer gaan om te dans. Dan begin die platejoggie paartjies sif totdat die langste getroude paartjie by die troue oor is. Dit was vroeër my gunsteling deel van enige troue. Hierdie keer het ek egter by die badkamer ingegaan en gehuil. Ek het nog nooit so alleen gevoel nie.
'n Paar uur later toe almal groet, het dit begin reën. Al was dit nog dag, het die lug so donker soos die nag geword van al die donderwolke. Terwyl my vriend bestuur het, het ek in die verte gestaar, bly dat ek die emosionele tuimeltreinrit oorleef het. Toe merk ek 'n tipe gloed in die bome op. Ek het gedink hulle moet aan die brand wees. Toe sien ek egter hulle is nie aan die brand nie, en ek het omgedraai om te sien waar die lig vandaan kom.
Daar, deur 'n klein opening tussen die onweerswolke, was die mooiste rooi-oranje sonsondergang wat ek nog gesien het. Dit was net vir 'n oomblik daar. So vinnig as wat die wolke geskei het, het hulle weer toegemaak. Dit was so oorweldigend, dit het trane in my oë gebring, want ek het geweet die sonsondergang was net vir my. God het uitgereik om vir my te sê ek is nie alleen nie. Met Hom aan my sy was ek nog nooit alleen nie, en ek sal nooit alleen wees nie. Dieselfde geld ook vir jou.
Al sal almal jou in die steek laat, God sal nooit nie. Hy het jou lief met 'n onsterflike liefde wat nooit sal ophou nie. Dit maak nie saak hoe ver jy hardloop of hoeveel keer jy Hom wegstoot nie, Hy sal nie ophou om in jou te glo nie. Hy sal aanhou om jou agterna te sit, jou te herinner dat jy Syne is. Hy sal nooit moeg word vir jou of belangstelling verloor nie. Hy is die perfekte Man, die ridder op die wit perd waaroor jy gedroom het vandat jy 'n klein dogtertjie was. Laat Hom toe om jou lief te hê. Laat Hy jou herinner dat jy waardevol is — soveel so dat Hy die uiteindelike prys betaal het, die dood aan 'n kruis, sodat Hy die ewigheid saam met jou kan deurbring.
Vader, dankie vir u meedoënlose liefde en uitreik na my. Ek is so dankbaar dat, al weet U hoeveel hare op my kop is, U my nog meer wil ken. Wanneer ek eensaam voel, herinner my dat ek nooit alleen is nie, want U het belowe om altyd by my te wees. Openbaar aan my die maniere waarop U my hart agternasit sodat ek u teenwoordigheid in my lewe beter kan herken. Breek my mure af en help my om u volmaakte liefde te aanvaar. In die Naam van Jesus. Amen!
Aangaande hierdie leesplan

Egskeiding bedroef die hart van God. Hy haat dit om ons in pyn te sien en waar ons aan skuld, skaamte en vrees vashou. Ten spyte van ons foute, verlang Hy daarna dat ons sy genade moet aanvaar en weet dat ons gewaardeer, gekoester en onvervangbaar is. Ongeag jou omstandighede, hierdie leesplan sal jou help om genesing na jou egskeiding te vind, sodat jy die verloste lewe kan leef wat God vir jou het — een vol hoop, vreugde en doelgerigtheid.
More