Wat Behels Aanbidding?Voorbeeld

Wat Behels Aanbidding?

DAG 2 VAN 7

Hoekom behoort ons God te aanbid?

Is dit nie vertroostend om 'n God te aanbid wat ons nie nog groter kan maak nie? — Francis Chan

Die rede hoekom ons God aanbid, is omdat Hy dit waardig is. Hy is elke sekonde van elke dag ons aanbidding waardig. Alles wat asemhaal is geskape om God te aanbid.

Op enige gegewe dag rig ons dikwels ons aanbidding op iets of iemand wat niks gedoen het om dit te verdien nie. Net God is waardig om die heerlikheid, eer en mag te ontvang, want Hy is die Skepper van die heelal (Die Openbaring 4). Ons behoort God so hoog te ag dat ons Hom bo alles en voor alles bewonder en waardeer. Om God waarlik te kan aanbid, moet ons Hom ken, of ten minste begin om 'n lewenslange soektog op tou te sit. Die Woord van God, die Bybel, het baie inligting oor die God wat ons dien. Die Ou Testamentiese hoofstukke in Psalms, is deurdrenk met waarhede oor Hom, sy karakter en sy weë. Hier is 'n kykie na party van hulle:

Hy is ons Vader, ons God, ons Rots, ons Verlosser. Hy is ons Son en Skild. Hy is magtig en vir ewig gevestig, soos die maan. Hy het die wêreld opgerig, Hy het die noorde en suide geskep en Hy regeer oor die golwende oseane. Ons God is in majesteit geklee en bewapen met krag, en Hy is verhewe bo alle nasies. Hy het die oor ontwerp en die oog gevorm, en Hy bepaal die aantal sterre en noem hulle elkeen by die naam. Hy behandel ons nie volgens ons sonde nie, en straf ons nie na gelang van ons oortredinge nie. Hy het deernis, Hy sal nooit sluimer nie en Hy is God met 'n hoofletter “G” — groter as al die sogenaamde “gode”.

Dis wie ons God is, en Hy is ons ontsag, bewondering en toewyding vir ewig waardig. Sy karakter is diepgaande. Sy dade is merkwaardig. Sy oppergesag oor die heelal is onpeilbaar.

Kom ons, as volgelinge van Christus, wy ons lewens daaraan toe om die enigste Een te aanbid wat ons aanbidding waardig is. Oor die volgende vyf dae gaan ons op vyf maniere fokus waarop ons God kan aanbid.

  • Ons aanbid deur middel van musiek.
  • Ons aanbid deur Hom te vereer.
  • Ons aanbid as ons sy mense dien.
  • Ons aanbid as ons ons vertroue in Hom stel.
  • Ons aanbid wanneer ons ons wil aan Hom onderwerp.

Dis 'n onuitputbare lys. Dis net 'n wegspringplek om ons te help om te leer hoe om 'n lewe van aanbidding te leef.

Nadenke

  • Lees Psalm 98 en verklaar dit aan jou God.
  • Noem drie karaktertrekke van God wat jy in Psalm 98 (of enige ander Psalm) kry. Aanbid Hom daarvoor.
  • Skryf enige openbaring neer wat God aan jou gegee het tydens vandag se skriflesing en oordenking.
Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Wat Behels Aanbidding?

Ons harte neig na aanbidding. Ons, as volgelinge van Christus, is deur God geskape om Hom te aanbid. Ons neig egter om ons bewondering en getrouheid aan mense en dinge te gee, eerder as aan God. Kom saam met ons op hierdie reis en delf dieper in wat aanbidding is en hoe ons kan leer om 'n lewenswyse te leef wat God eerste plaas.

More

Hierdie oorspronklike Leesplan is geskep en verskaf deur YouVersion.