Duet Voorbeeld

Duet

DAG 4 VAN 7

Soek na meer – by God

Ek gesels in die week met ’n begaafde kunstenaar oor ’n projek. Vier van haar kunswerke hang bo ons bed. Dat haar pad haar al deur groot klowe en diep valleie geneem het, word weerspieël in haar fyn aanvoeling vir die Gees van God.

Sy vertel ’n storie binne ’n storie. Sy kan, volgens eie belydenis, nie by een storie op ’n slag bly nie. Dis nou glo dáárvoor dat sy haar man nodig het; hy bestuur haar so mooitjies deur die draaie van haar vertellings. Een van haar afdraaipaaie vat ons na die volgende stukkie goud wat sy met my deel: ’n geestelike leier het in ’n preek verduidelik dat God sekere geheime oor ons elkeen bewaar, wat slegs die Heilige Gees oor ons as individu by God self kan hoor. Die idee staan my dadelik aan. Ek het al agtergekom dat daar oneindige potensiaal en verrassings opgesluit lê in die psige van die mens. Dit maak sin dat daar by God kennis oor my menswees is wat nie elders beskikbaar is nie. 

Ek weet ook dat die diepste en kosbaarste goud van ons karakter binne die huwelik ontgin kan word. Dit is na die Heilige Gees wat Johannes in hierdie skrifgedeelte verwys. Daardie deel van God wat in ons kom leef en ons na die geheime van ons karakter by God kan neem.

Ons kan kies om nie na hierdie dieptes van ons gees te soek nie, maar dan sal ons altyd na iets meer smag. Net in intimiteit met God kan ons versadig raak in ons versugting na meer.

Waar soek ek na meer?  

GEBED: Vader, laat my deur die Heilige Gees nader aan U leef en so meer van myself ontdek. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Duet

Dagstukkies vir huweliksmaats. Dis perfek vir huwelikspaartjies om in hulle stiltetyd saam te lees, en is geskik vir mense van enige ouderdom.

More

Ons wil graag NB Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.luxverbi.co.za