Die WrokVoorbeeld
Sal God my Vergewe?
Mense hou daarvan om dinge te meet en dit kan ons noodlottige flater word. Dink hieroor: Alles wat ons ken, het 'n beginpunt en 'n eindpunt. 'n Perk. 'n Grens. As jy daaraan dink, die wydste grens wat ons ooit eerstehands sal ervaar, is 'n leeftyd, wat ook maar klein is, gemeet teen die groter prentjie.
As ek dus vra: "Sal God my vergewe?" het ek waarskynlik 'n perk, grens of teiken om na te mik. Natuurlik wil ons vergewe word, maar ons wil darem ook hoor: "Dis wat aanvaarbaar is, maar so baie? Nee, dis seker hopeloos te veel."
Wanneer ons vra: "Sal God my vergewe?" en die antwoord is: "Ja! Hy hét reeds en sal voortgaan om dit elke keer te doen," is dit nie vir ons goed genoeg nie.
Ons begin verskonings maak hoekom ons te ver gegaan het. "Ek het regtig te erg aangegaan omdat …" of, "Jy het nie 'n idee wat ek aangevang het nie …" Ons stapel beskuldigings, blaam en skande op onsself en vra weer hoe groot God se graaf is.
Daar is darem goeie nuus. Daar is geen grense aan God se genade nie. Om alles te kroon, het God reeds besluit om aan ons meer genade te gee as wat ons kan gebruik. Dit is goeie nuus, want dit bedek die diepte van ons sonde en gee redding vir ons siele. Dit is goeie nuus omdat dit die speelveld gelyk maak deur ons ergste sonde net so maklik soos enige ander sonde te vergewe. Dit is goeie nuus, want waar ons te kragteloos is om in die onsigbare sfeer te reik om ons demone te vernietig, kan Jesus dit doen, want Hy is almagtig.
Dit is amper vir ons makliker om te weet dat ons 'n grens oorskry het, as om sy onuitputlike genade te aanvaar, of hoe? Dit sou ons darem so 'n bietjie beheer gee wanneer ons goeie naam weer in ere herstel moet word. As daar 'n beperking aan God se vergifnis en genade was, dan kon ons darem 'n mate van goedheid behaal om weer God se genade te wen. Die Bybel sê egter in Romeine 11:6 as ons dit uit verdienste kry, is dit nie meer genade nie.
Weet dit: toe Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf het, het Hy vir al ons sonde, in die verlede, in die hede en in die toekoms, gesterf. Jou sonde kan nie onbeperkte genade oorskry nie. Jy kan God ook nie verras met die hoeveelheid verkeerde dinge wat jy doen nie.
Dit is nogal moeilik om die volgehoue oneindigheid van God se genade te begryp; daardie genade wat God vir ons het wanneer ons Jesus se genade ter vergifnis van ons sonde aanvaar het. Jy hoef gelukkig nie genade ten volle te verstaan om dit te ontvang nie. Dit is 'n gawe wat vrylik aan ons gegee word.
Die Bybel sê: "Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie" Efesiërs 2:8-9.
Die antwoord is dus, ja. As jy God se vergifnis soek, sal God jou vergewe, ongeag wat jy gedoen het.
Leon, gebrekkig, maar vergewe.
Bid: Vader, dankie dat U vergifnis aanbied op maniere wat ons nooit kan verdien of verstaan nie. Dankie vir Jesus. Help my om u vergifnis ten volle te ontvang en u vergifnis ook na ander aan te bied. In die Naam van Jesus, amen.
Aangaande hierdie leesplan
Dis soos 'n albatros om die nek. Dit hou mense weg. Dis swaar en pynlik — dit is die wrok. Daar is baie onder ons wat dit nie besef nie, maar ons dra wrokke wat aan die lig moet kom. Leer hoe jy vryheid deur vergifnis kan kry gedurende hierdie 7-dag Leesplan wat deur pastoor Craig Groeschel se boodskapsreeks "The Grudge" begelei word.
More