Gesinspret met Kersfees deur Ewald & Beatrix van Rensburg Voorbeeld
Woede
Beste en slegste
Gee elkeen ’n kans om oor die beste en slegste oomblik van elkeen se dag te gesels.
Waar het jy Jesus vandag ontmoet?
Gesels met mekaar oor waar elkeen vandag vir Jesus ontmoet het, of oor iets of iemand wat jou aan Hom laat dink het.
Wat leer jy in die Bybelverse oor:
• die gevare van woede?
• die gevolge van woede?
• die manier om woede te keer of te oorwin?
Gedagte vir die dag
Iemand het gesê: “’n Teesakkie versprei eers sy ware geur in warm water!” In die warm water van woede en sy groot boetie, weerwraak, sien ons soms ’n kant van onsself waarvan ons nie hou nie, waarvoor ons selfs skrik!
Daar was eenkeer ’n seun wat gedurig sy humeur verloor het. Sy pa gee toe vir hom ’n sak spykers saam met die opdrag om elke keer wanneer hy sy humeur verloor, ’n spyker in die agterplaas se houtheining in te slaan.
’n Paar weke later, neem die pa sy seun aan die hand en saam stap hulle na die heining toe. Daar sê die pa vir sy seun: “Ek is trots op jou, seun, maar kyk na die gate in die heining. Die heining sal nooit weer dieselfde wees nie. As jy iets sê of doen wanneer jy kwaad is, los dit ’n merk, nes die spykers in die heining. ’n Wond wat deur woorde gemaak word, is net so sleg soos ’n regtige wond aan jou lyf.”
Om genade te betoon is die reël van God se koninkryk. Daar is geen vergelding wat so volledig is soos vergifnis nie. Dis hoe ons as Jesus-volgelinge lewe!
Doen saam
Daar is baie maniere hoe ons kalm kan word as ons kwaad is. Dit is normaal om kwaad te word – dis ’n emosie waarmee God ons geskape het. Maar ons kan nie toelaat dat dit buite beheer raak, en ons gevolglik verkeerde, lelike dinge sê en mense aftakel en dinge breek nie.
Hier is ’n paar idees wat kan help:
• Loop weg en gaan blaas iewers anders stoom af.
• Gaan slaan ’n kussing.
• Dink aan ’n kalm plek.
• Praat met iemand.
• Gaan skop ’n bal.
• Sing ’n liedjie of luister na musiek.
• Teken prentjies.
• Gaan draf of loop ’n ent.
Gebed
Here, U moet ons tog help dat woede nie die oorhand oor ons kry nie – sit ’n wag voor ons mond as ons kwaad word, hou wag oor wat ons in sulke oomblikke sê. In Jesus se Naam vra ons dit. Amen.
Leef jou geloof
Dink aan iemand wat een van julle kwaad gemaak het. Kom ooreen om vir die persoon te bid en Jesus te vra om die persoon te seën.
Net vir ouers
Leer vir jou kinders hoe om woede te hanteer en onthou dat hulle jou voorbeeld sal volg.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 5-dag-leesplan is ideaal vir Advent-oordenkings vir die hele familie en sal verhoudings, spanwerk, geduld en oorweging aanmoedig. Elke dag bevat Bybelverse, ’n geleentheid vir gesinslede om oor hulle dag te praat, ’n oordenking, ’n prettige aktiwiteit, ’n gebed asook “leef jou geloof” en “net vir ouers” gedeeltes. Die inhoud van hierdie leesplan is gebaseer op Ewald en Beatrix van Rensburg se “Nader aan God, nader aan mekaar”.
More
Ons wil graag vir Struik Christian Media en Ewald en Beatrix van Rensburg bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/nader-aan-god-nader-aan-mekaar-flex-cover