Die Ring. 'n 6-Dag Leesplan Vir Huweliksmaats.Voorbeeld

Die Ring.  'n 6-Dag Leesplan Vir Huweliksmaats.

DAG 2 VAN 6

Ring van Eenheid

Efesiers 5:31: “Daar staan in die Skrif: Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.”

Maleagi 2:15: “Het die Here dan nie man en vrou een gemaak nie, een in liggaam en gees.”

1 Korintiërs 7:2: “Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.”

Uit hierdie Skrifgedeeltes is God se bedoeling met die huwelik duidelik: dat hierdie ring uit slegs twee mense en God bestaan. Daar bestaan ook ‘n hegte eenheid tussen die twee mense binne die ring. Die mense in die ring vorm ‘n eenheid en ‘n span en God se idee is dat hierdie ‘n ewige verbintenis moet wees (Ef 5:31). 

‘n Trouring simboliseer hierdie heilige ring wat God in gedagte gehad het vir die huwelik. Die ring het geen begin of einde nie. Die huwelik is nie ‘n ooreenkoms nie, maar ‘n verbond.  As jy eers binne hierdie ring is, is daar geen omdraai nie.

Die trouring word ook gewoonlik van baie suiwer edelmetale en duursame edelgesteentes gemaak. Dit simboliseer die waarde, heiligheid en egtheid van die huwelik.

Ons verloor so maklik perspektief in vandag se gejaagde en stresvolle lewe, en dan stel ons hierdie ring soms bloot aan faktore van buite, wat die eenheid in die ring kan versteur. Dit is belangrik om altyd te onthou wie binne hierdie ring is, sodat ons faktore wat buite die ring hoort - soos ons kinders (in die gesin maar nie in die ring nie), loopbane, vriende en familie - nie die ring definieer nie. Indien daar belangrike besluite geneem moet word, is dit altyd ‘n goeie vertrekpunt om jouself die vraag te vra: Wat gaan die beste vir ons span wees?


Maak dit prakties

  • Is daar enige ander verhoudings of eksterne aktiwiteite saam met ons in ons ring?
  • Hoe kan ons saam ons ring definieer?
  • Neem ek soms besluite ten koste van ons span?


Gebed: Here, baie dankie vir hierdie span waarvan ek deel kan wees. Help my om altyd die span eerste te stel en niks of niemand toe te laat om binne-in ons ring te kom nie. Dankie dat U ook belang het in die span en dat U vir ons die voorbeeld is van hoe ons teenoor mekaar moet optree. Here, maak ons een soos U een is. Amen.


Willem en Jessica

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Die Ring.  'n 6-Dag Leesplan Vir Huweliksmaats.

Op ‘n egpaar se huweliksdag sê hulle “Ja”, beloof trou aan mekaar en is ringe uitgeruil as ‘n simbool van hierdie nuwe eenheid. Hierdie 6-dag Bybelplan gebruik die metafoor van die ring om sekere aspekte van die huwelik uit te lig. Elke dag is geskryf deur 'n ander huwelikspaar wat self in hierdie ring van liefde leef.

More

Ons bedank Doxa Deo vir die voorsiening van hierdie plan. Besoek: https://www.doxadeo.org/ vir meer inligting