Leef In Sy Lig Deur Nina SmitVoorbeeld
Die dood het nie die laaste sê nie
Baie mense is bang vir die dood. En dit is so onnodig wanneer ons weet dat ons aan God behoort. Vir Christene het die dood nooit die laaste sê nie. Dit is eerder ’n deurgang na die eintlike lewe.
Jesus het met Sy opstanding die graf en die dood oorwin, en daarmee dit vir ons moontlik gemaak om dieselfde te doen. Vir jou hoef die dood dus nooit die laaste woord te hê nie.
Indien jy nie in Jesus se opstanding uit die dood glo nie, is jou geloof waardeloos. Dan is jy inderdaad nog vasgevang in jou sondes, verduidelik Paulus aan die gemeente in Korinte (sien 1 Korintiërs 15:17). Maar as jy in Jesus se opstanding glo en saam met Hom gesterf het, het jy die versekering dat jy, soos Hy, ook eendag uit die dood sal opstaan en vir ewig saam met Hom sal leef. Dan het jy ’n lewende hoop op die onverganklike erfenis wat Hy in die hemel vir jou in bewaring hou.
Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy die dood eens en vir altyd oorwin. Nou is die dood nie meer die gevreesde oorwinnaar nie, omdat Jesus vir ons die angel uit die dood kom haal het. Wanneer ons wel sterf, sal ons ’n nuwe opstandingsliggaam kry. Ons verganklike aardse liggame sal in onsterflike hemelse liggame verander, waaroor die dood geen mag sal hê nie. Jesus het met Sy dood en opstanding die mag van die dood finaal uitgewis. Daarom hoef jy nie langer vir die dood bang te wees nie.
Gebed
Here Jesus, baie dankie dat U gesterf en uit die dood opgestaan het, sodat ek ook eendag in ’n nuwe lewe kan opstaan en vir altyd saam met U in die hemel sal kan leef. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Nina Smit se kenmerkende bemoedigende styl vol praktiese raad spoor die leser aan om bewus te wees van God se teenwoordigheid. Nooi God om deel te wees van elke aspek van jou lewe en elke dag in sy lig te lewe. Die inhoud van hierdie 5-dag-leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Leef in sy lig”.
More
Ons wil graag vir Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die verskaffing van
hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/leef-in-sy-lig-grootdruk-hardeband