Leef deur geloofVoorbeeld
DIE VERDEDIGER VAN DIE GELOOF
Jesus is die Verdediger van die geloof, die Seun van die lewende God. Dis so wonderlik om te weet daar is iemand wat ons agterhoede beskerm. Daar is iemand wat 24 uur per dag, 7 dae per week oor ons waak. Sy Naam is Jesus.
Ons hoef nie altyd God en onsself te probeer verdedig nie. Die Here kan Homself baie beter verdedig as wat ons Hom kan verdedig. Daar is net een God en Hy is soewerein. Hy is nog nooit verslaan nie en Hy is ons Verdediger. Hou dus op om met mense te probeer argumenteer oor die Here. Hou op om Hom te probeer verdedig. Jy staan ’n beter kans om iemand vir Christus te wen deur die argument te verloor. Waarom? Want ongelowiges is hardkoppig. Selfs al kry jy dit reg om hulle van iets te oortuig, sal hulle uit beginsel weier om die knie te buig.
Jy hoef nie die Here te verdedig of bekommerd te wees dat die Bose ons sal oorwin nie. Die duiwel kan ons nooit uitoorlê nie. In 1 Johannes 4:4 staan daar dat die Gees wat in jou woon groter is as die gees wat in die wêreld woon.
Vertrou jy God? Of gebruik jy God bloot as ’n laaste uitweg? Die Here is die een wat ons van die kwaad weerhou. “Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende.” (Johannes 15:13) Jesus het vir jou gesterf en al wat Hy in ruil daarvoor wil hê, is dat jy op Hom sal staatmaak. Hy alleen sal in al jou behoeftes voorsien. (Filippense 4:19) Dis wat vir ons vrede gee. Dis waarom ander mense na ons kom, soekend na dít wat ons het. Gelowiges beskik oor vrede waarna ander hunker. Daar is ’n vreugde, ’n sekerheid omtrent ons, wat hulle net nêrens anders kan vind nie. Dit is ons plig om hulle aan ons Verdediger voor te stel.
GEBED: Vader God, dankie dat U my Verdediger is en dat U vir my vreugde en vrede gee, ongeag waardeur ek gaan. Mag ek ander na U toe trek, omdat hulle die hoop in my kan sien. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Deur geloof in God word lewens verander, seën ontvang en hoop aangevuur. Geloof in God is die begin van ’n nuwe lewe vol verwondering oor God se grootheid en mag. In hierdie leesplan sal jy die krag van geloof ervaar en ontdek hoe jy jou geloof kan laat groei. Hierdie oordenkings is geneem uit GENADE IN OORVLOED deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.
More
Ons wil graag Angus Buchan en Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://www.cumbooks.co.za/ |