Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld
SLEGTE OMSTANDIGHEDE STEEL 'N MENSE SE GELUK
Stel jou voor daar is ’n klein seuntjie of dogtertjie wat verjaar en partytjie hou. Op die tafel staan ’n koek – as dit ’n seuntjie is wat verjaar, is dit miskien ’n dinosouruskoek, as dit ’n dogtertjie is wat verjaar, dalk ’n Barbiekoek. Die kind moet die vier of vyf kersies doodblaas, maar kan nie bykom nie. Dan bring die ma ’n stoel nader en sê: “Klim op die stoel.”
Die kleintjie klim op die stoel en staan sommer so op die kniegies op die stoel van pure opgewondenheid. Dink ’n bietjie hoe straal daardie gesiggie. Daar is ’n salige uitdrukking op die gesig: Dis mý verjaardag, dis mý koek, dis mý partytjie, dis mý maatjies en mý rooi koeldrank en mý geskenke. Hierdie is mý dag. Dink ’n bietjie terug aan toe jy klein was. Is dit nie die lekkerste gevoel om so bederf te word nie?
Het jy geweet jy kan vandag ook op so ’n stoel sit? Jy kan van nou af permanent op daardie plek sit. God trek vir jou die stoel aan Sy tafel uit en sê: “Kom sit, My kind, hierdie is jou spesiale plek. Dis jou posisie van genade – jy is vergewe, jy is vrygespreek en jy kan nou in vrede leef.”
Navorsing het bewys dat geloof, nie eksterne omstandighede nie, die grootste invloed op ’n persoon se geluk het. As jy skuldig voel en nie goed genoeg voel nie as gevolg van jou sonde, het dit ’n groot effek op jou blydskap. Dis soos om daardie gaan-tronk-toe- kaartjie te trek. Jy voel jy is uitgevang. Of jy is bang jy word uitgevang en beland in die moeilikheid. As jy met skuldgevoelens leef, dan val die blydskapvlak in jou brein en jy raak morbied en depressief. Dis wanneer jy begin glo almal weet hoe sleg jy is en jy is nie goed genoeg nie.
Die teenoorgestelde gebeur wanneer jy weet jy is vergewe en alles is oukei. Dan voel jy die lewe is lekker en dit kan net nie beter met jou gaan nie. Dis die effek wat vergifnis op jou het. Jou omstandighede bepaal dus nie jou geluk of jou blydskap nie; jou geloof bepaal dit. Jy kan in die middel van helse omstandighede wees, maar as jy glo jy sit op die stoel van genade, het jy ’n blydskap in jou wat net wil uitborrel.
Die bekende skrywer, Corrie ten Boom, het baie geskryf oor die konsentrasiekamp waarin sy was. Dit is interessant dat die mense wat geglo het hulle het ’n doel, die kamp oorleef het. Daardie gevoel van doellose gevangenskap het mense rasend gemaak en hulle die wil om te oorleef laat verloor. Corrie glo elke mens het ’n doel, al is jy in ’n konsentrasiekamp. Daardie doel gee vir jou geluk en iets om voor te leef.
Vir wie werk alles “ten goede mee”, soos ons in Romeine lees? Vir hulle wat hulle doel ontdek het. As jy nie ’n roeping of ’n doel het nie, dan vra jy maklik: “Hoekom gebeur dit alweer met my? Die lewe is nie regverdig nie, kyk hoe swaar kry ek.” Om sonder ’n doel te leef, is verskriklik. Jy sal elke oggend wakker word en wonder: Hoekom moet ek opstaan? Hoekom moet ek werk toe gaan? Wat is die doel van die lewe? Waarnatoe is ek op pad?
Wat is ’n fiets se doel? Dit sal jy net uitvind by die persoon wat die fiets gebou het. Die fiets is dalk met dik wiele of dun wiele gemaak, met baie ratte of min ratte. Miskien is daar klein wieletjies aan die kant. As jy nie seker is watter een om te koop nie, vra die persoon wat die fiets gemaak het, want hy het ’n sekere funksie daarvoor in gedagte gehad.
Kom dus in ’n verhouding met die Een wat jou gemaak het. Jy is sorgvuldig beplan en baie versigtig aanmekaargesit. Jy het ’n unieke kombinasie van eienskappe en jy is spesiaal ontwerp vir die plekkie wat jy moet volstaan. Niemand anders kan dit doen presies soos jy nie.
As jy met ’n doel en ’n roeping leef, sal jy in die oggend met meer energie kan opstaan om deur die dag te kom. Selfs al gaan dit nie altyd voor die wind met jou nie. Geloof is jou anker wat vir jou sê daar is ’n groter Krag wat op jou inwerk. Daar is Iemand wat na jou kyk en wat vir jou sorg en ontsettend lief is vir jou. Hy weet alles van jou en stel intens belang in jou lewe.
Wat moet jy doen as jy regtig gelukkig wil wees? Dit sal nie help om ’n ander werk te kry of meer geld te verdien of ’n verhouding te beëindig nie. Gaan werk aan jou verhouding met die Een wat al die hare op jou kop getel het en wat die meetsnoere net reg kan laat val vir jou. Dit sal jou gelukkig maak – in goeie én slegte tye.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.
More
Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/