Die Sewe Huisraadstukke Van Die TabernakelVoorbeeld
DIE TAFEL MET DIE TWAALF TOONBRODE
Die derde stuk huisraad rakende die dienswerk van die tabernakel is die tafel met die twaalf toonbrode in die Heiligdom.
In die heilige plek in die tabernakel vind ons drie afsonderlike artikels, naamlik die tafel met die toonbrode daarop, die goue kandelaar, en die goue reukaltaar. Terwyl die tabernakel as sodanig Christus tipeer, word die Heilige plek as ’n tipe van die Kerk op aarde beskou. Die heilige plek in die tabernakel met sy toebehore spreek dus van die Kerk op aarde in Christus.
Die voorskrif rakende die tafel in die heiligdom vind ons in Exodus 25:23-30; 40:4-5 en die voorskrif aangaande die twaalf brode in Levitikus 24: 5-9.
Dit is opmerklik dat ons hier in Exodus 25 die eerste melding in die Bybel van ’n tafel het. En dis ’n tafel met brood daarop. Dit alles dui dus op ’n maaltyd, feesviering en versadiging – dus volle gemeenskap.
Die tafel met die toonbrode het aan die regterkant binne die heiligdom gestaan, aan die noordekant (Ex 40:22). Dit was van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek. Die tafel het ’n goue krans en ’n lys rondom gehad. Die krans was heel waarskynlik om te keer dat artikels van die tafel afval. Verskillende werktuie of gereedskapstukke is gemaak ten opsigte van die bediening van die tafel; skottels, rookpanne, kanne, bekers, die drankofferkanne en die goue lepels (Ex 25:29; Num 4:7). Alles was van goud gemaak. Daar was ook ringe en draaghoute sodat die tafel van plek tot plek gedra kon word tydens Israel se pelgrimstog deur die woestyn. Die tafel met toonbrode het regoor die kandelaar in die heiligdom gestaan.
Toonbrood beteken letterlik: brood van die aangesig (Lev 24:5-6, 8). Die brood is ‘n herinnering daaraan dat Israel deur God gevoed word. Die toonbrood was van sabbat tot sabbat voor die aangesig van die Here in die Heiligdom. Gedurende elke opvolgende sabbat is die brood vervang met nuwes. Die brood, wat die week voor die aangesig van die Here was, is dan deur die priesters in die heiligdom geëet. Daar is op elke sabbat twaalf nuwe vars brode, een vir elke stam, op die tafel geplaas. Elke sabbatdag moes die priesters in die heilige plek vergader om die brode te eet en dit met nuwes te vervang. Die twaalf brode was op twee stapels van ses brode elk op mekaar neergelê (Lev 24:6). By elke stapel is wierook bygevoeg (Lev 24:7). Hierdie brode is ook genoem “altyd blywende brood” (Num 4:7). Hierdie brood was gemaak van fynmeel (geen suurdeeg, Lev 24:5). Die brode gemaak van fynmeel spreek van die volmaaktheid en egaligheid – dít wat gemaal, gesif en op die proef gestel is. Die wit fynmeel sonder suurdeeg spreek van heiligheid, reinheid, waarheid en geregtigheid (1 Kor 5:6-8). Pilatus sê van Christus: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie” (Luk 23:4). Die brood was noukeurig op die tafel gerangskik (Ex 40:23). Die priesters moes die brood op elke sabbatdag eet, binne-in die heiligdom en op geen ander plek nie. Hoewel dit nie gesê word nie, is dit duidelik dat die bekers en drankofferkanne (Ex 25:29; Num 4:7) gebruik is om wyn te hou en om mee uit te gooi “en sy bekers waarmee gegiet moet word” (vers 29).
Die heel eerste taak van die priesters in die heilige plek was om in gemeenskap met die Here te verkeer.
Vir die Israeliete is die betekenis van die tafel met die twaalf toonbrode veelseggend. Hierdeur erken hulle, elke stam, hul afhanklikheid van God as die Gewer van lewe en is die altyd-blywende brood ’n voortdurende herinnering aan God se goedheid in die voorsiening van die behoeftes van sy volk. Almal om een tafel saam! Die tafel breek alle skeidsmure af en maak almal een. Wierook is bygevoeg as ’n vuuroffer en gedenkoffer. Dit spreek van gebed. Jesus Christus verklaar aan die volk Israel: “Ek is die brood van die lewe . . . Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid” (Joh 6:48, 51).
Die gelowiges in Christus is ook ’n heilige priesterdom (1 Pet 2:5). As ’n geestelike priesterdom kan ons alleen met God gemeenskap hê in en deur Christus. Buite Christus kan die mens nie met God die Vader gemeenskap hê nie. In Christus het gelowiges ook gemeenskap met mekaar. Elke sabbatdag moes die priesters in die Heilige plek vergader om die brode te eet. Met dié ete het hulle in ’n gelukkige gemeenskap met mekaar verkeer. So behoort die Kerk in Christus ook gelukkig saam te kom op die eerste dag van die week om brood te breek – letterlik en figuurlik gesproke (Hand 20:7; Heb 10:25). Ons sien ook in die brood die woord van God, die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly, die goeie saad, die onverganklike saad (1 Pet 1:23, 25). Voorts sien ons ook in die gebruik van die nagmaal dat ons deel het aan Christus wanneer ons doen wat Hy beveel het: “Neem, eet, dit is My liggaam wat vir julle gebreek word, doen dit tot my gedagtenis” (Matt 26:26; 1 Kor 11:24).
Net gelowiges, ware wedergebore kinders van die Here, kan aan die tafel van die Here deel hê. Paulus verduidelik só: “Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (1 Kor 10:16-17).
Net voor sy kruisdood sê Jesus Christus aan sy dissipels: “En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk . . .” (Luk 22:29-30).
Aangaande hierdie leesplan
Ons vind twee dinge in die voorhof waarop ons aandag gevestig word, naamlik die koperaltaar en die koperwaskom. Altesame was daar sewe items of stukke huisraad rakende die tabernakel. Twee in die voorhof, drie in die Heiligdom en twee in die Allerheiligste. Ons kyk na al sewe items in hierdie plan.
More
Ons wil graag Raymond D. Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/