Daaglikse Juwele - Behou jou kroon as 'n dogter van die KoningVoorbeeld
Dag 7: Moenie tam raak nie
Tamheid: buitengewone moegheid; uitputting: teensin om nog meer van enigiets te sien of te ervaar.
Het jy al ooit wakker geword en dadelik die ure begin aftel voor dit weer slaaptyd is? Nee, is dit net ek? Kom ek verduidelik dit vir jou. Ek voel dalk fisies moeg, maar die regte woord is eintlik "tam", wat beteken dat ek UITERS moeg is en wat my teensin veroorsaak. Vroue wil "alles" doen en jy moet mooi lyk terwyl jy so besig is — en moenie vergeet om vir ALLES ja te sê nie. Maak seker dat jy oefeninge doen en 'n slaai eet en laastens nog iets, maak asseblief seker dat jou kinders ELKE DAG kos en skoon onderklere het! Ek raak skoon moeg terwyl ek dit tik!!
Wanneer daar so baie dinge aan die gebeur is, is dit maklik om uitgeput te raak. Gewoonlik raak my hart ontsteld wanneer my tamheid verby is en dan voel ek dat ek nie goed genoeg vir enigeen is nie. Ek het ook berading nodig oor hoe om "nee" te sê, want ek is die koningin wat alles "inpas", selfs al maak dit my mal. Ek hou ook daarvan om met BAIE dinge te "begin", maar maak dit dan nooit klaar nie. Kan jy jou daarmee vereenselwig?
In 2017 het ek deur 'n tydperk gegaan toe alles my tam en uitgeput laat voel het, selfs die geseënde dele in my lewe. Die wasgoed was vir my een te veel. Ek moes 'n konferensie bywoon en het amper op die nippertjie kop uitgetrek, omdat dit nog 'n "ding" was. Ek het daaroor gebid en gevoel die Here por my aan om te gaan. Toe ons daar instap moes ons ons selfone bêre, 'n joga-mat, ons Bybels en dagboeke gryp. Die aanbidding was iets besonders, maar die beste deel van die hele konferensie was die geleentheid om Jesus te ervaar. Dit was net Jesus, ek en wonderlike mans en vroue van God wat my beker volgemaak het. Ek was op my knieë, besig om te bid, en het God gevra om my te help om nie so tam en uitgeput te voel nie, toe ek hierdie woorde hoor: "Hou op probeer." Dit was so duidelik soos daglig! Die betekenis van probeer is om 'n "groot poging aan te wend om iets te bereik of iets te verkry." My hart het vinniger begin klop, want in daardie oomblik het ek besef dat ek met alles probeer (my werk, huwelik, bediening en ouerskap). Ek het so hard probeer om van alles 'n sukses te maak en perfek te wees, dat ek myself binne-in tamheid "probeer" het.
Ek het daardie dag alles laat vaar. Ek het my arms oopgesprei en alles aan my hemelse Vader oorgegee. Ek was nooit veronderstel om dit te dra nie. Die gewig om volmaak te wees, by te bly met sosiale media en die behoefte om suksesvol te wees, het swaar op my hart gedruk het. Ek het in Jesus se arms inmekaar gesak en sedertdien was my lewe nie dieselfde nie. Voel jy vandag tam en uitgeput? Jy het 'n doel, en daardie doel was nooit om die perfekte mens te wees nie. Hy is by jou, met ope arms, gereed om die laste en gewig by jou oor te neem wat eintlik nooit vir jou bedoel was nie. Jy is so geliefd!
Daaglikse Gebed:
Hemelse Vader,
Ek voel so tam en het U vandag nodig! Ek het u hulp nodig om op te hou probeer en net na U te kyk! Ek weet dat U my liefhet, ten spyte van myself en dat U wag om die gewig te dra wat ek nooit veronderstel was om te dra nie. Vader God, ek kan waarlik net by U wees. Hernu asseblief my denke en gee my die krag om elke dag aan te pak. Help my om stil te word in u teenwoordigheid en al die LIEFDE en GENADE te ervaar wat U aan my wil gee. Ek is nie perfek nie, maar pragtig in u oë! In die Naam van Jesus.
Liefde,
U dogter
Moenie vandag jou kroon vergeet nie!
Aangaande hierdie leesplan
Kyk 'n bietjie rond. Daar is altyd 'n juweel te vinde, te midde van die chaos. Daaglikse Juwele is 'n 7-dag oordenking wat jou uitnooi om jou kroon, as 'n dogter van die Koning, te behou. Kom saam met my op 'n skattejag om die alledaagse juwele te ontdek wat op gewone plekke weggesteek is.
More