Amen Voorbeeld

Amen

DAG 2 VAN 6

GROOT VERANDERINGE 

Daar is ’n keerpunt in elke mens se storie. Ons maak elke dag keuses, maar sommige keuses is opvallend omdat dit deurslaggewend belangrik is. Daar is altyd daardie een keuse wat jou hele lewe vorm. 

Vandag gesels Angus met ons oor daardie oomblik in sy lewe toe hy ’n besluit geneem en dit sy lewe radikaal verander het. 

‘n Lewensles van Angus 

Ek wil vandag met jou oor die ervaring van bekering gesels. Ek is seker jy weet van Saulus die vervolger wat Paulus die apostel geword het. Hy het ’n “Damaskus”-ervaring gehad. Net soos Saulus se lewe op daardie oomblik radikaal verander het, sal daar ’n radikale verandering in jou lewe plaasvind wanneer jy vir Jesus ontmoet.

Een Sondag is ons na Lay Witness Mission se byeenkoms genooi. Ek is oortuig om daardie oggend kerk toe te gaan en al ons kinders was saam met my en Jill daar. Ek het nie geweet dit sou die wonderlikste dag van my lewe word nie. Dit sou my geestelike verjaarsdag wees, en ek onthou dit asof dit gister gebeur het.

Ons het by die kerk aangekom, maar omdat dit ’n uitreikdiens was, was die kerk stampvol. Ek wou heel agter gaan sit, maar daar was nie meer plek nie. Ek moes in die paadjie af stap tot heel voor. Teen daardie tyd het almal in die dorp geweet ek is in die kerk. 

In daardie stadium van my lewe was ek byna bankrot. Ek het na die Here geroep en Hy het my gehoor. Aan die einde van die diens het hulle mense vorentoe geroep om hulle lewe aan die Here oor te gee. Die prediker het gesê: “As jy jou lewe vir Jesus Christus wil gee, kom asseblief vorentoe.” Ek, Jill en ons kinders het opgestaan en vorentoe gestap. Dit was 18 Februarie 1979 – die dag waarop my lewe vir altyd verander het. Ek het geen weerlig sien flits nie. Ek het ook nie ’n stem uit die hemel hoor praat nie. Maar ek het ’n bewustelike besluit geneem. Ek het besef ek het vir Jesus Christus nodig. 

Later daardie dag het ’n man, wat ook die oggend in die kerk was en mettertyd my geestelike pa en dierbare vriend geword het, na ons plaas toe uitgery. Hy het gesien hoe ek my tydens die diens aan Christus verbind het en hy wou weet of ek dit regtig bedoel het. “Natuurlik het ek!” het ek geantwoord. Toe vra hy my om die volgende dag vir die eerste drie mense wat ek sien te vertel dat ek my lewe vir Jesus gegee het. Dit was die begin van my geloofsreis. 

Ek het in die openbaar opgestaan en gesê ek is nie skaam vir die evangelie van Christus nie, want dit is immers God se krag wat aan die werk is en verlossing bring vir elkeen wat glo (Rom. 1:16). Wat van jou? Het jy al ooit vir Jesus gevra om in jou lewe in te kom? Baie mense sê hulle is lief vir God, maar hulle het Hom nog nooit persoonlik ontmoet nie. 

Ek het in die openbaar opgestaan en gesê ek is nie skaam vir die evangelie van Christus nie, want dit is immers God se krag wat aan die werk is en verlossing bring vir elkeen wat glo (Rom. 1:16). Wat van jou? Het jy al ooit vir Jesus gevra om in jou lewe in te kom? Baie mense sê hulle is lief vir God, maar hulle het Hom nog nooit persoonlik ontmoet nie. Dit is egter waar alles begin; die res sal vanself in plek val. 

Dit gaan dalk nie goed met jou huwelik nie of jy beleef finansiële probleme. Miskien voel jy dit maak nie saak wat jy doen nie, niks dra vrug nie. Ek wil ’n voorstel maak: Gee dit vir God. Gee vir Hom jou huwelik; gee vir Hom jou onderneming; gee vir Hom jou visie en jou toekoms. Ek kan jou waarborg, jy sal helder begin dink en daardie swaar sak sement sal van jou skouers af val. Dit is presies wat met my gebeur het. Ek het elke faset van my lewe aan Jesus Christus oorgegee, en in ruil daarvoor het Hy vir my wysheid en die ewige lewe gegee. En van toe af het alles verander. 

Vraag om oor na te dink: Johannes 3:3 | Geestelike verloskunde 

Wat is die een ding waarop jy hierdie week wil konsentreer wat ’n bewys sal wees van jou begeerte om God meer openlik lief te hê? 

Vers om te memoriseer - Johannes 3:3

Hemelse Vader, ek erken dat Jesus Christus die Seun van God is. Ek erken dat ek ’n sondaar is. Ek vra U vandag om my te vergewe. Ek het berou oor my sonde en belowe dat ek geen ander gode in my lewe sal hê nie. Ek sal vandag begin om volgens die Woord van God te leef. Dit sal my optrede rig, asook die optrede van my gesin en die mense rondom my. Ek sê vir U dankie, Here, dat ek, aangesien ek hierdie gebed bid, kan glo dat ek verlos is. Ek glo my sonde is vergewe en dat U vir my ’n splinternuwe lewe gegee het. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Amen

Hierdie Bybelstudie bied aan jou ’n baie unieke geleentheid om die passie wat Angus vir Jesus het self te ervaar. As jy luister en jou hart oopmaak, sal jy vind dit is aansteeklik. Wanneer ek ook al by Angus is, groei my vasberadenheid om op God te vertrou en my lewenspad met vrymoedige geloof in Hom te stap. - Pastor Allen Jackson

More

Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.cumbooks.co.za/ en https://www.amazon.com/author/angusbuchan1​​​​​​​