Oorvloedige Liefde Deur Nina SmitVoorbeeld
Vreugde in God se Woord
Het jy al gewonder wat die geheim van ware geluk is? Jy sal dit in Psalm 1 kry: Vind jou vreugde in God se Woord, eerder as in die plesier wat die wêreld jou bied.
Die heel belangrikste besluit wat iemand kan neem, is of hulle vir God of teen God gaan kies. Psalm 1 verseker jou dat as jy vir God gekies het, as dit vir jou ’n vreugde is om sy Woord te bestudeer en jou lewe daarvolgens in te rig, dit altyd met jou goed sal gaan. Die mense wat die geheim ontdek het hoe om hul vreugde in God se Woord te vind, aan hulle belowe God voorspoed. Hulle sal wees soos ’n boom wat by waterstrome geplant is en sy vrugte op die regte tyd dra (sien Psalm 1:3).
Kan jy met eerlikheid sê dat dit vir jou ’n vreugde is om jou Bybel te bestudeer? Om elke dag al hoe meer van God te leer, om sy riglyne te gehoorsaam en sy bevele uit te voer? Dan kan jy Psalm 1 se beloftes vandag vir jouself toeëien. God wil jou ook belowe dat Hy nie net materieel vir jou sal sorg nie, maar dat Hy ook in ’n geestelike sin vir jou sal voorsien (sien Filippense 4:19). Hy sal jou sonde vergewe en jou genadig wees. Hy sal jou lei op jou lewenspad.
Hy sal vir jou lewenskrag, varsheid en vrug op jou arbeid waarborg (soos die boom wat by waterstrome geplant is). En Hy sal jou seën in alles wat jy aanpak.
Gebed
Hemelse Vader, dankie vir die vreugde wat ek elke dag in u Woord mag vind. Dankie vir u belofte dat U vir my sal sorg, my op my lewenspad sal lei en my suksesvol sal maak. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 5-dag-leesplan oor God se liefde en oorvloed sal lesers verseker van God se sorg, vergifnis en beskerming en hulle herinner om sy daaglikse seën te waardeer. Elke dag bevat gedagtes rondom ’n spesifieke tema (soos vergifnis, werk en hoop) en ’n gebed en eindig met ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “Oorvloedige liefde”.
More
Baie dankie aan Struik Christian Media en Nina Smit dat hulle hierdie plan beskikbaar gestel het. Vir meer inligting oor die boek “Oorvloedige liefde”, besoek https://www.cumbooks.co.za/oorvloedige-liefde-grootdruk-hardeband