Advent: Die Reis Tot By KersfeesVoorbeeld
Die Vrede Van 'n Goddelike Doel
Vrees kan jou tot stilstand ruk. Dit kan jou ook laat hardloop en wegkruip. Die Satan hou daarvan om deur vrees te verhoed dat ons die veilige rigting volg wat God vir ons aanwys. Vrees het verskeie kere die vervulling van Kersfees bedreig en God moes die hoofkarakters in sy verhaal oor en oor daaraan herinner: "Moenie bang wees nie."
Matteus 1:18-21 vertel Josef se weergawe van die Kersverhaal. Maria het swanger geword voor sy en Josef kon trou en Josef, "wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek." 'n Engel van God het egter in 'n droom aan hom verskyn om hom gerus te stel dat hy gekies is om die Seun van God op aarde groot te maak.
Josef het aanvanklik probeer om sy en Maria se reputasies te beskerm toe hy die nuus van die swangerskap kry, omdat hy vir die gevolge bang was. Hy het nie geweet of Maria se bewering dat sy nog 'n maagd is, die waarheid was nie, en hy wou dus die verlowing verbreek. Te midde van hierdie pynlike, verwarrende omstandighede, het God in 'n droom aan Josef verskyn en sy vrese besweer met die vrede van 'n Goddelike doel. So is hy op die regte pad gelei om die aardse vader van die grootste Man te wees wat die wêreld ooit geken het.
In ons oomblikke van vrees, wil God die waarheid by ons tuisbring en die krag breek van die leuen wat ons terughou. Wanneer ons sy vrede soek, sal Hy ons vrese met sy liefde oorwin. Vra God om jou die waarheid te laat hoor in plaas van die leuen wat jou vandag angstig maak. Hy is getrou en sal jou antwoord en bemagtig om aan te beweeg om die verstommende doel wat Hy vir jou lewe het, te bereik.
Gebed: Vader, u Woord sê dat ons nie 'n gees van vreesagtigheid gekry het nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. Dankie dat U alles vir my gee wat nodig is om vorentoe te beweeg wanneer die vyand probeer om my terug te hou. Ek prys U dat vrees voor die Naam van Jesus moet buig. Help my om tydens hierdie Kersseisoen, en alle ander tye, vreesaanjaende gedagtes gevange te neem en hulle dadelik na U toe te bring, sodat u vrede in my lewe kan heers.
Aangaande hierdie leesplan
Kersfees is waarlik die grootste verhaal wat ooit vertel is: een van God se volmaakte getrouheid, krag, redding en onfeilbare liefde. Kom ons gaan die volgende 25 dae op reis om God se ingewikkelde plan te ontdek — om die wêreld van sonde te red en die belofte van die geboorte van sy Seun te vervul.
More