God is aan jou kant deur Nina SmitVoorbeeld
![God is aan jou kant deur Nina Smit](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F12396%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Gaan na jou binnekamer
Mense in wie se lewe God groot dinge doen, bring genoeg alleentyd met Hom in hul binnekamer deur. Die godsman Andrew Murray het dikwels oor sy binnekamer geskryf. “Die seëning van jou binnekamer is nie afhanklik van hoe sterk of hoe vurig die gevoel is waarmee jy bid nie, maar van die liefde en krag van die Vader aan Wie jy jou behoeftes toevertrou. Begin deur heel eerste vir God te dank vir sy onuitspreeklike liefde wat jou nooi om na Hom te kom en vrylik met Hom te verkeer. Loof en prys die Drie-enige God vir sy heilige teenwoordigheid.”
Vir alle moeë, moedelose mense is ’n binnekamer noodsaaklik. Dis ’n plek waar jy alleen met God kan wees, alleen by Hom kan stil raak. In jou binnekamer ervaar jy elke keer hoe God die swaar probleme van jou skouers lig en jou van sy krag voorsien. Daar kan jy Hom vertel van elke liewe ding wat jou pla en alles en almal wat jou hinder met Hom bespreek. Jy kan ook getuig hoe lief jy Hom het en voel hoe Hy jou met sy liefde omvou.
Daar verdwyn die angstigheid wat jou keel wil toetrek as jy dink aan alles wat in die toekoms op jou wag soos mis voor die middagson.
So ’n alleenplek met God en alleentyd saam met Hom sal ’n geweldige verskil maak – nie net aan jou huidige gemoedstoestand nie, maar ook aan jou hele lewe. Moenie langer wag om vir jou so ’n binnekamer in te rig nie.
Gebed:
Here, ek kan my lewe nie indink sonder my binnekamer waar ek elke dag met U kan verkeer nie. Dankie vir ons tye saam, vir inspirasie en krag wat ek daar kry, vir die heerlike werklikheid van u teenwoordigheid waarop ek daar ervaar. Ek loof U vir die persoonlike manier waarop U in my binnekamer met my kommunikeer. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![God is aan jou kant deur Nina Smit](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F12396%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Hierdie 5-dag-leesplan sal lesers herinner aan God se blywende liefde, en sal hulle bemoedig om hul seënings te tel en elke dag voluit te leef. Elkeen van die vyf dae handel oor ’n spesifieke tema (soos om te fokus op die positiewe en om altyd dankbaar te lewe) en sluit ’n toepaslike gebed en Bybelvers in. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se “God is aan jou kant”.
More
Baie dankie aan Struik Christian Media en Nina Smit dat hulle hierdie plan beskikbaar gestel het. Vir meer inligting oor die boek, "God is aan jou kant", besoek: https://www.cumbooks.co.za/god-is-aan-jou-kant- sagteband