SAGARIA 14:9-15
SAGARIA 14:9-15 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sal koning wees oor die hele aarde. Hy alleen sal die Here wees, en almal sal net vir Hom aanbid. Die hele land sal 'n gelyk veld word, van die stad Geba tot by die stad Rimmon, suid van Jerusalem. Maar Jerusalem sal hoog op dieselfde plek bly, van die Benjamin-poort tot by die plek waar die eerste poort was, van die Hoek-poort en die Gananel-toring tot by die koning se parskuipe. Die mense van Jerusalem sal veilig daar woon, en die vyande sal nie weer die stad verwoes nie. Die Here sal die volke swaar straf wat oorlog gemaak het teen Jerusalem. Die vleis van hulle liggame sal vrot word terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal vrot word in hulle kop, en hulle tonge sal vrot word in hulle monde. Dieselfde sal gebeur met die perde en muile en kamele en donkies, met al die diere wat in die vyande se kamp is. Die Here sal die vyande daardie dag baie deurmekaar maak, hulle sal mekaar gryp en doodmaak. Ook die mense van Juda sal oorlog maak teen Jerusalem. Maar die mense van Jerusalem sal die goed van al die ander volke rondom hulle bymekaarmaak en vat: baie goud en silwer en klere.
SAGARIA 14:9-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een. Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning. En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon. En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal 'n groot verwarring van die HERE onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander. En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere — 'n groot hoeveelheid. En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is.
SAGARIA 14:9-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here sal koning wees oor die hele land. Daardie dag sal die Here die enigste God wees, en sy Naam die enigste Naam. Die hele land, van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem, sal soos die Jordaanvallei word. Jerusalem sal gelig word daar waar hy nou is, hy sal hoog lê, van die Benjaminpoort af tot waar die poort vroeër was, tot by die Hoekpoort en die Gananeltoring, tot by die koning se wynkuipe. Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal 'n veilige woonplek wees. Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met 'n groot ramp tref: hulle vleis sal wegvrot terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal wegvrot in hulle oogkaste, hulle tonge sal wegvrot in hulle monde. Daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak: die een sal die ander aan die hand gryp en hom aanval. Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdomme van al die nasies rondom sal bymekaargemaak word: goud, silwer en klere in groot hoeveelhede. Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is.
SAGARIA 14:9-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE sal koning word oor die hele aarde. In daardie tyd sal die HERE die enigste wees, en sy Naam die enigste. Die hele land sal verander word soos die Araba vanaf Geba tot by Rimmon suid van Jerusalem. Jerusalem sal egter uittroon; sy sal gevestig wees op haar plek: van die Benjaminpoort tot by die plek van die vroeëre poort en tot by die Hoekpoort, en van die Gananeltoring tot by die koning se kuipe. Hulle sal daar woon. Daar sal nie meer 'n volledige vernietiging wees nie; Jerusalem sal veilig gevestig wees. Dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat teen Jerusalem optrek: Hy sal hulle liggame laat verrot terwyl hulle nog op hulle voete is; hulle oë sal verrot in hulle oogkaste, en hulle tonge sal verrot in hulle monde. Op daardie dag sal die HERE groot verwarring onder hulle veroorsaak. Hulle sal die een die ander se hand gryp en die een teen die ander die hand lig. Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdom van al die nasies rondom hulle sal bymekaargemaak word: baie groot hoeveelhede goud, silwer en klere. So sal dieselfde plaag die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere wat in hulle kampe is, tref.
SAGARIA 14:9-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE sal koning wees oor die hele aarde: in dié dag sal daar een HERE wees, en sy Naam een. Die hele land sal verander word soos 'n vlakte van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem; en dit sal verhef word en in sy plek bewoon word, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die eerste poort, tot by die Hoekpoort en van die toring af van Hananeel tot by die parskuipe van die koning. En mense sal daarin woon, en daar sal geen algehele vernietiging meer wees nie; maar Jerusalem sal veilig bewoon word. En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat teen Jerusalem geveg het; Hulle vlees sal verteer terwyl hulle op hulle voete staan, en hulle oë sal verteer in hulle gate, en hulle tong sal wegvreet in hulle mond. En in dié dag sal 'n groot rumoer van die HERE onder hulle wees; en hulle sal elkeen aan die hand van sy naaste gryp, en sy hand sal opstaan teen die hand van sy naaste. En Juda sal ook in Jerusalem veg; en die rykdom van al die nasies rondom sal versamel word, goud en silwer en klere, in groot menigte. En so sal die plaag wees van die perde, van die muil, van die kameel en van die esel en van al die diere wat in hierdie tente sal wees, soos hierdie plaag.
SAGARIA 14:9-15 Die Boodskap (DB)
Die Here sal koning wees oor die hele wêreld. Daardie dag sal almal weet dat Hy die enigste God is. Sy Naam sal die enigste Naam wees wat genoem word. Die hele gebied rondom Jerusalem sal oop en uitgestrek lê. Na die noorde toe sal dit lê tot by Geba en na die suide tot so ver as Rimmon. In die middel van hierdie gebied sal Jerusalem hoog uitstaan soos vroeër. Die stad sal lê van die Benjaminingang af tot by die plek waar die ou hek was. Dan verder tot by die Hoekingang en van die Gananeltoring tot by die plek waar die koning se wyn gemaak word. Die mense sal in Jerusalem kom bly en veilig voel, want die stad sal nie weer verwoes word nie. Die Here sal ’n verskriklike siekte laat uitbreek onder al die nasies wat teen Jerusalem baklei het. Hulle liggame sal begin vrot terwyl hulle nog leef. Dieselfde sal gebeur met hulle oë en hulle tonge. In dié tyd sal die Here ’n vreeslike angs die mense laat beetpak. In die deurmekaarspul sal hulle mekaar gryp en mekaar slaan. Selfs die mense van Juda sal by Jerusalem teen die vyand baklei. Die rykdom van die volke in die omgewing sal afgevat word. Op dié manier sal groot hoeveelhede goud, silwer en klere bymekaargebring word. Dieselfde vreeslike siekte wat die mense oorgekom het, sal ook die perde, muile, kamele, donkies en watter ander diere daar ook al in die vyand se kampe is, besmet.
SAGARIA 14:9-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE sal koning wees oor die hele aarde. Op daardie dag sal daar een HERE wees en net sy Naam sal aanbid word. Die hele land van Geba af tot by Rimmon, suid van Jerusalem, sal een groot plein word, maar Jerusalem sal gelig word tot sy oorspronklike posisie en sal bewoon word vanaf die Benjaminpoort tot by die plek waar die ou poort was, dan tot by die Hoekpoort, en van die Gananelpoort af tot by die koning se wynperse. Jerusalem sal bewoon word, ’n veilige plek en wat nooit weer vervloek of verwoes sal word nie. Die HERE gaan al die nasies wat teen Jerusalem veg, met ’n plaag tref. Hulle sal soos wandelende lyke word terwyl hulle vleis wegvrot. Hulle oë sal wegkrimp in hulle oogkasse en hulle tonge sal wegvrot in hulle monde. Op daardie dag sal hulle paniekbevange raak. Die HERE sal hulle tref met ’n groot verwarring. Hulle sal mekaar te lyf gaan. Juda sal ook in Jerusalem veg. Die rykdom van al die naburige volke sal bymekaargemaak word, groot hoeveelhede goud en silwer en klere. Dieselfde plaag sal ook die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere in die vyand se kampe tref.