Sagaria 14

14
Die dag wanneer God die mense sal oordeel en straf
1Die dag van die Here is baie naby. Alles wat die ander volke gevat het uit Jerusalem, sal terugkom. Die mense in die stad sal besluit wat elkeen moet kry.
2Die Here sal al die volke bymekaarmaak om oorlog te maak teen Jerusalem. Hulle sal die stad oorwin en hulle sal die goed uit die huise vat en die vroue verkrag. Hulle sal die helfte van die stad se mense vang en wegvat. Die ander helfte van die mense sal in die stad bly.
3Maar dan sal die Here teen daardie volke oorlog maak soos Hy voorheen gedoen het. 4Die Here sal daardie dag staan op die Olyf-berg wat oos van Jerusalem is, en die Olyf-berg sal oopskeur. Een helfte van die berg sal beweeg na die noorde toe en die ander helfte sal beweeg na die suide toe. Dan sal daar 'n groot kloof wees, van oos na wes. 5Die kloof sal wees tot by die stad Asal. Die mense van Jerusalem sal deur die kloof vlug soos hulle gevlug het toe daar 'n aardbewing was in die tyd toe Ussia die koning van Juda was. Dan sal my God die Here kom, en die engele sal saam met Hom kom.
6Daardie dag sal die son nie in die oggend begin skyn nie, en dit sal nie koud wees nie. 7Dit sal dag bly, daar sal nie dag en nag wees nie, dit sal altyd lig wees, ook wanneer dit aand is. Die Here weet dat dit sal gebeur.
8Daardie dag sal daar uit Jerusalem vars water kom. Een helfte van die water sal na die Dooie See vloei en die ander helfte na die Middellandse See. Die water sal vloei in die somer en in die winter. 9Die Here sal koning wees oor die hele aarde. Hy alleen sal die Here wees, en almal sal net vir Hom aanbid. 10Die hele land sal 'n gelyk veld word, van die stad Geba tot by die stad Rimmon, suid van Jerusalem. Maar Jerusalem sal hoog op dieselfde plek bly, van die Benjamin-poort tot by die plek waar die eerste poort was, van die Hoek-poort en die Gananel-toring tot by die koning se parskuipe. 11Die mense van Jerusalem sal veilig daar woon, en die vyande sal nie weer die stad verwoes nie.
12Die Here sal die volke swaar straf wat oorlog gemaak het teen Jerusalem. Die vleis van hulle liggame sal vrot word terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal vrot word in hulle kop, en hulle tonge sal vrot word in hulle monde. 13-15Dieselfde sal gebeur met die perde en muile en kamele en donkies, met al die diere wat in die vyande se kamp is. Die Here sal die vyande daardie dag baie deurmekaar maak, hulle sal mekaar gryp en doodmaak. Ook die mense van Juda sal oorlog maak teen Jerusalem. Maar die mense van Jerusalem sal die goed van al die ander volke rondom hulle bymekaarmaak en vat: baie goud en silwer en klere.
16Die mense van die volke wat oorlog gemaak het teen Jerusalem, sal nie almal dood wees nie. Al die mense wat nog lewe, sal elke jaar na Jerusalem kom en hulle sal buig voor die Koning, die Here wat oor alles regeer. Hulle sal ook die Hutte-fees vier. 17As die mense uit al die lande op die aarde nie na Jerusalem kom om te buig voor die Koning nie, dan sal hulle lande nie reën kry nie. Hy is die Here wat oor alles regeer. 18As die mense van Egipte nie kom nie, dan sal die Here hulle straf soos Hy al die ander volke straf wat nie gekom het om die Hutte-fees te vier nie. 19So sal die Here die mense van Egipte en al die ander volke straf as hulle nie kom om die Hutte-fees te vier nie. Hulle sal nie reën kry nie.
20Daardie dag sal die mense skryf op die klokkies aan die perde se tuie. Hulle sal skryf: “ Gewy aan die Here.” Die potte in die tempel sal gewy wees, soos die bakke by die altaar. 21Al die potte in Jerusalem sal gewy wees aan die Here wat oor alles regeer. Almal wat wil offer, sal kom en hulle sal party van die potte vat. Hulle sal die vleis vir die ete-offers in die potte kook. Daar sal nie weer iemand in die tempel wees wat goed koop en verkoop nie.

Tans Gekies:

Sagaria 14: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid