ROMEINE 5:12-18

ROMEINE 5:12-18 Bybel vir almal (ABA)

Daarom, een mens, Adam, het eerste sonde gedoen, en hy moes sterf. Van toe af doen al die mense sonde, en hulle moet almal sterf. Die mense het sonde gedoen voordat God vir hulle sy wette gegee het, maar hulle was nie skuldig nie, want hulle het nog nie die wette gehad nie. Hulle was nie skuldig nie, maar hulle het gesterf, van die tyd toe Adam gelewe het tot die tyd toe Moses die wette van God vir die Israeliete gegee het. Die dood het oor al die mense regeer. Die mense wat nie dieselfde sondes gedoen het wat Adam gedoen het nie, het ook gesterf. Ja, Adam het sonde gedoen en gesterf, en dit het gewys wat Christus moes kom doen, Christus, die Een wat later gekom het. God se genade is anders as die sonde en dit is sterker as die sonde. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom het baie mense gesterf. Maar God se genade is baie beter. Ja, God is baie goed, Hy het Een Mens, Jesus Christus, gegee, en dit is hoe God genadig was vir baie meer mense. God se genade is nie soos Adam se sonde nie. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en God het gesê Adam het verkeerd gedoen, daarom sal God hom straf. Maar God se genade is anders. Die mense het baie sondes gedoen, maar toe het God se genade gekom, God was goed vir die mense en Hy het hulle vrygespreek. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en van toe af het die mense gesterf. Die dood het oor hulle regeer. Maar God se genade is baie beter, Hy is baie goed vir mense en Hy spreek hulle vry. Hulle sal vir altyd lewe en regeer, want Een Mens, Jesus Christus, het hulle gered. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom moes God al die mense straf. Maar dit was ook Een Mens, Christus, wat gedoen het wat God wil hê, en daarom spreek God al die mense vry en laat Hy hulle lewe.

ROMEINE 5:12-18 Die Boodskap (DB)

Dit is net een mens se skuld dat hierdie wêreld in so ’n groot gemors is: Adam. Dit is hy wat die sonde en die dood in die wêreld ingebring het. Omdat hy nie na God wou luister nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep. Daarom is ons almal nou sondaars. Nog voordat God sy wet aan Moses gegee het, was daar al sonde in die wêreld. Dit was nog net nie so duidelik uitgespel nie. Tog heers die dood van Adam se tyd af oor alles en almal. Al die mense wat ná Adam geleef het, het ook doodgegaan, al het hulle nie presies dieselfde sondes as hy gedoen nie. Maar Adam wys ook vooruit na die Een wat ons uit die greep van sonde kom bevry het. Tog kan Adam se sonde en Christus se verlossing nie in dieselfde asem genoem word nie. As slegs een persoon se sonde in staat was om miljoene mense in die dood te dompel, dink net wat God kan regkry deur een Man, Jesus Christus. Omdat God so baie vir ons omgee, het Hy hierdie Man na ons toe gestuur om ons vry te kom maak. Jesus Christus is die sigbare bewys van God se ongelooflike goedheid. Daar is eintlik geen vergelyking tussen Adam se doodsonde en God se splinternuwe geskenk aan ons nie. Want God se reaksie op Adam se sonde was kort en kragtig: ’n doodsvonnis vir die ganse wêreld. Maar toe volg daar ’n wonderwerk. In reaksie op ons derduisende oortredings het Hy ons heeltemal verniet kom vryspreek van ons sondes. As dit waar is dat die dood oor die hele wêreld geheers het deur een man se sonde, dink dan net wat een Man se offer tot gevolg sal hê: ’n splinternuwe lewe! Elkeen wat God se oorvloedige goedheid en sy vryspraak deur Jesus Christus ontvang, sal soos ’n koning saam met Hom heers. Een man se sonde het gemaak dat almal skuldig staan voor God se regbank. Maar een daad van gehoorsaamheid van ’n ander Man het gemaak dat almal nou onskuldig by God se hofsaal kan uitstap. Sy gehoorsaamheid bring ware lewe vir ons almal.

ROMEINE 5:12-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig. Reeds voordat die wet gegee is, het mense gesondig, alhoewel sonde nog nie so spesifiek toegereken kan word as daar geen wet is nie. Die mense tussen Adam en Moses het in elk geval almal gesterf, al was hulle nie soos Adam ongehoorsaam aan ’n uitdruklike opdrag van God nie. Adam was in ’n sekere sin ’n heenwysing na Hom wat sou kom. Tog is daar ’n ernstige verskil tussen ons sonde en God se genadegeskenk van vergifnis. Want die oortreding van hierdie een mens, Adam, het die dood van baie veroorsaak, maar die ander mens, Jesus Christus, het soveel meer gedoen: die genade van God, ja, sy genadegeskenk wat Hy deur Jesus Christus aan baie mense gee, oortref alles! En die resultaat van God se genadegeskenk verskil radikaal van die resultaat van die een mens, Adam, se sonde. Want hierdie een mens se sonde het gelei tot veroordeling, maar ons ontvang die genadegeskenk van God se vryspraak, al staan ons skuldig aan ’n menigte oortredings. Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het veroorsaak dat die dood oor ons regeer, maar deur die een mens, Jesus Christus, word vir ons nog veel meer gegee: Almal wat God se oorvloedige genadegeskenk van vryspraak ontvang, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer. Ja, Adam se een oortreding het God se veroordeling oor almal gebring, maar net so het Christus se een daad van gehoorsaamheid vryspraak en lewe vir almal gebring.